Dit is amper twee jaar sedert Chester Swart deur twee pitboel-honde in die Paarl aangeval is terwyl die eienaar bloot staan en toekyk het.
Swart, ’n pastoor van die Fountain- kerk in Worcester asook omroeper by Worcester FM, was op 2 Julie 2022 om 21:30 die aand onderweg na sy tuisdorp, maar het eers by Allie’s Supermarket op die hoek van Jan van Riebeeck- en Klein Drakenstein-weg in die Paarl gestop vir ’n peuselhappie, waarna hy deur die eienaar van dié kruidenierswarewinkel, Allie Hassan, se pitboel-honde aangeval is.
Volgens Swart het hy voor die Drakenstein-apteek om die draai van die winkel gestop, en om die hoek na die kruideniersware-winkel geloop.
Die oomblik toe Swart die twee pitboel-honde gewaar het, wat “sonder leibande” by die ingang van die winkel gesit het, het hy omgedraai om terug motor toe gestap, sonder om die honde se aandag met sy optrede te probeer trek.
Die honde het nietemin op Swart afgestorm en hom in die teenwoordigheid van Hassan en sy werknemer aangeval, waar hulle toegekyk het wat gebeur het sonder om hulp aan te bied.
“Die twee pitboel-honde het my eerste aan al twee my bene beetgekry – elke hond het ’n been gehad – en verskriklik begin byt.
“Ek het ’n hele paar keer geval, opgestaan en weer geval terwyl die honde my die hele tyd oor my liggaam gebyt het.
“Die honde het na my nek se kant begin spring, maar ek het met albei arms gekeer en met hulle gestoei terwyl ek om hulp geskree het,” sê Swart.
“Die honde het my op ’n tyd rondgesleep soos ek op die sypaadjie geval en gegly het en het my ook op my arms en rug gebyt.”
liggaamlike skade en slaapstoornis
“Toe ek nader aan my kar kom terwyl ek van die honde af probeer wegkom het, het ek geskree ‘Here, help my!’ en gesien hoe ander motors en voetgangers by my gestop en geskree het iemand moet die honde van my afkry.”
Terwyl Swart om sy lewe geveg het, het drie winkelassistente van Allie’s Supermarket na Swart gestap.
Dit is toe dat die twee pitboel-honde Swart uit hul eie op die sypaadjie gelos het en hy omstreeks 22:00 deur sy vriend, wat saam met hom in die motor was en die aanval aanskou het, na die Mediclinic Paarl geneem is.
Volgens Swart het hy verskeie beserings opgedoen, wat insluit erge senuweeskade asook pyn in sy hande en bene.
“Ek kan nog nie heeltemal reg trap op my linkervoet nie, en my regterhand is ook nog besig om te herstel, en een van my vingers is nou nog geswel.
“Dis baie moeilik fisiek en emosioneel, met die gereelde slaapstoornisse en terugflitse,” sê Swart.
“My linkerbeen se senuwee is ook beskadig, en die agterkant [van die been] se wond is nog baie sensitief en dit brand somtyds soos vuur.”
‘geregtigheid moet geskied’
“Die twee honde het ook die been se senuwee raakgebyt en die dokter het gesê dit groei een millimeter ’n dag terug, en sal vier tot vyf jaar neem [om ten volle te herstel],” verduidelik Swart.
Swart het die aand van die aanval op 2 Julie ’n klagte by die Paarl-Oos-polisie aangemeld, en die saak draai tans in die Paarlse landdroshof, met die volgende hofverskyning op 24 Mei.
Volgens kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, word ’n klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, ondersoek.
Volgens Swart speel Hassan nie oop kaarte oor waar die honde is nie en die polisie kon nog nie die honde opspoor nie.
Swart sê hy wil geen finansiële voordeel uit die hofsaak hê nie, maar wil net sien dat “geregtigheid geskied” en Hassan skuldig bevind word.
Volgens Jacques Peacock, ’n woordvoerder van die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV), word pitboel-honde deur onverantwoordelike mense aangeskaf om ’n beeld van “mag” uit te beeld, vir hondegevegte, teling of vir sekuriteitsdoeleindes.
“Hierdie honde word aangehits en opgelei om teenoor mens en dier aggressief te wees, en die dier word baie vinnig ’n hoë risiko.
“Al te dikwels leef hierdie honde ’n kwesbare lewe in hokke of aan kettings wat tipies tot ’n toename in aggressie lei en die risiko van aanval net verder verhoog.”
Peacock verduidelik dat daar nie tans ’n wet bestaan teen die teel en besit van Pitboel-honde nie.
Die Paarl Post het by Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, navraag gedoen, maar het geen terugvoering voor publikasie ontvang nie.




