Inwoners, boere en sake-eienaars in die streek is ontstoke nadat die nasionale energiereguleerder (Nersa) verlede week aangekondig het kragtariewe sal van April af met bykans 19% styg.
Hierdie aanpassing kom ook op ’n tyd waarin huishoudings en sakeondernemings geteister word deur die impak van fase-ses-beurtkrag en die onsekerheid van wat nog kan kom wat beurtkrag betref.
Eskom het egter ’n pleidooi aan Nersa gerig en gevra vir ’n 30%-verhoging in die jaarlikse tariefaanpassing. Nersa het in ’n verklaring gesê hy het ná oorweging en insae uit verskeie oorde besluit om die verhoging onder 20% te hou.
Geordin-Hill Lewis, burgemeester van die Stad Kaapstad, het in ’n onlangse onderhoud gesê die meeste munisipaliteite kan die verhoging eers van die nuwe boekjaar, wat in Junie begin, bereken. Dit beteken hulle sal verantwoordelik wees om Eskom in die tussentyd te betaal en daarna die persentasie in te reken sodat munisipaliteite nie verliese ly nie.
Sakeondernemings, kerke en ander gemeenskapsinstansies oor die land heen beplan om binnekort die strate in te vaar om die stem dik te maak teen kwessies soos die voortdurende beurtkrag en tariefverhogings.
Plaaslike pastore in Worcester beplan ook ’n optog deur die strate om mense se mening oor hierdie kwessies te lug.
“Ons mense word op hul knieë gedwing. Die meeste kan reeds nie die tariewe bekostig nie, en dit terwyl hulle elke dag vir ure sonder krag moet klaarkom. Ons moet opstaan en leiding neem,” het pastoor Dennis Scheepers aan Standard genoem.
Johan Botes, die eienaar van A&HG Auto in Robertson, sê sakelui daar gaan ook ’n poging aanwend om weens hierdie grief op te staan.
“’n Nasionale optog word vir 25 Januarie beplan, en talle inwoners sal by hierdie geleentheid wil aansluit. Ons moet opstaan en ons stem dik maak. Hierdie gaan nie oor politiek of ras of enigiets anders as die konstante donker waarin ons almal gedompel word nie. Ons en ’n paar ondernemings gaan opstaan en ons glo baie in die omgewing gaan – dit is hoog tyd.” –Vervolg op bladsy 2.



