Historiese watermeul by Kleinplasie loop weer danksy kenner

Oom Tinkie Conradie by sy draaibank waar hy die historiese watermeul se as herstel het.

Die watermeul by die Worceser-museum by Kleinplasie loop weer soos van ouds nadat ‘n ou bekende vriend die as herstel het.

Die Vriende van Worcester-museum het die 80-jarige Andries “Tinkie” Conradie se hulp ingeroep om die watermeul te herstel. Conradie was van 1985 tot 2000 ‘n instandhoudingstegnikus by die museum en het die meul jare lank voor sy aftrede in stand gehou. Hy is as pas­ser en draaier ‘n kenner op die gebied.

Die historiese meul is deur die Rota­riër­klub van Worcester geborg en is in Augustus 1979 amptelik in gebruik geneem. Hoewel die waterwiel nie so oud is nie, kom die as uit ‘n ou watermeul van Swellendam.

Conradie sê hy en sy voorganger by die museum, Flip Jordaan, het die oorspronklike as in 1985 met die ou een van Swellendam vervang. Dit was egter te groot vir die meul en hulle het toestemming van die destydse Boland-ingenieurs gekry om hul draaibank te gebruik. Dit is die einste as wat Conradie nou weer reggemaak het. Hy het gevra dat die swaar as van sowat 2,5 m en ‘n dikte van 300mm na sy huis gebring word waar hy op sy eie draaibank gewerk het. Die as is vermoedelik van kiaat gemaak, wat nie juis water absorbeer nie.

Die herstel van die watermeul verg spesialiskennis, wat sedert die koms van moderne tegnologie aan die verdwyn is. Conradie en Jordaan het destyds hul kennis van watermeule opgedoen toe hulle TC Botha van Stettyn se watermeul weer aan die loop gekry het.

Ou artefakte lê Conradie na aan die hart en sy huis is vol interessanthede wat hy bymekaargemaak het. Hy het in die omgewing grootgeword en was ‘n vakleerling aan die Hoër Tegniese Skool Drostdy. As passer en draaier het hy in sy jong dae op stoomtreine gewerk. Hy is ook betrokke by die Villiersdorp-veteraantrekker- en enjinklub en in sy werkskamer staan juis so ‘n ou trekker wat wag om weer na sy volle glorie herstel te word.

Watermeule word hoofsaaklik gebruik om koring mee te maal en die museum wys die jonger geslag hoe dit van ouds gedoen is. Wanneer die lus vir melktert en ‘n skeutjie geskiedenis die oorhand kry, klop gerus by die Worcester-museum by Kleinplasie aan en sien dié meul in aksie.

Die watermeul aan die buitekant van die Meulhuis by die Worcester-museum.
Aan die binnekant van die meulhuis lyk dit só. Dit is hier waar graan in die tregter gegooi word en dan gemaal word wanneer die watermeul draai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article