Die geskiedkundige Tuin van Herinnering op Kerkplein het onlangs verdere geskiedenis gemaak toe Worcester Toerisme sy eerste blou plaket vir dié tuin onthul het.
Blou plakette is oorspronklik ’n konsep van die British Heritage-bewaringsliggaam, waar Britse erfenis- en bewaringsliggame ’n plaket of inligtingsbord aanbring by historiese persele waar geskiedkundige gebeurtenisse plaasgevind het, of wat met belangrike historiese figure verbind word.
Sedertdien het hierdie konsep wêreldwyd uitgebrei en bring toerismeverenigings dit ook wêreldwyd aan op erfenisroetes, waar dit dan ’n permanente teken is om as ’n skakel met die verlede te dien.
Aangesien dit wêreldwyd herken word as ’n merk van geskiedkundige mense, gebeurtenisse of plekke, besoek toeriste en erfenisliefhebbers van oraloor dan hierdie plakette as deel van ’n erfenisroete.
’n Blou plaket plant die saadjie dat ’n spesifieke perseel ’n plek is om vir ’n oomblik by stil te staan, te reflekteer en om ’n perseel se geskiedkundige belang in heroënskou te neem.
Die Tuin van Herinnering was die perfekte plek vir Worcester Toerisme om met hul eerste blou plaket te begin, aangesien dié tuin nie net Worcester se hartklop vorm nie, maar ook omdat die tuin al 102 jaar oud is.
Op 21 Julie 1919 het die bekende skilder Hugo Naudé en die destydse voorsitter van die Worcester-sakekamer, David Smith, toestemming namens die Worcester Eeufees- en Oorlogsmonumentekommissie van die Worcester-stadsraad gevra om ’n monument in die middel van Kerkplein op te rig. Toestemming is verleen en Hugo Naudé het die Tuin van Herinnering ontwerp. Dit is beplan as ’n Worcester Eeufees- en Oorlogsmonument, en is soms ook in die ou geskrifte die “Eeufeesmonument” genoem omdat Worcester in 1920 honderd jaar oud sou wees, asook “Oorlogsmonument” ter ere van gesneuweldes tydens die Eerste Wêreldoorlog.
In September 1919 lê Hugo Naudé sy sketsplan van die Tuin van Herinnering aan die Worcester-munisipaliteit voor. Die basis van die ou Victoria Jubileumfontein van 1887, wat aanvanklik in die middel van Kerkplein gestaan het, is behou, terwyl die fontein self verwyder is.
Die Tuin van Herinnering sou met blomme en struike uit die Worcester-veld beplant word. Die hele projek sou aanvanklik £1 000 kos. Die Tuin van Herinnering is onthul op 27 Februarie 1920 om saam met die Eeufeesjaar van Worcester te val. Die tuin is sedertdien uitgebrei om onder meer ook al Worcester se gesneuweldes in die Tweede Wêreldoorlog en die Worcester-bomaanval te gedenk. Daar is ook vele ander monumente wat ander geskiedkundige gebeure herdenk.
Oor die jare moes Kerkplein al vele ontwikkelings trotseer, maar gelukkig het dié plein al die aanslae oorleef om vir die nageslagte in sy oorspronklike formaat behoue te bly.
Kerkplein in sy geheel, tesame met die Tuin van Herinnering, is op 20 September 1974 deur die destydse minister van opvoeding, senator JP van der Spuy, as nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die aanbring van die blou plaket op Kerkplein verhoog verder dié plein se erfenisbelang vir die toekoms.
Ter herdenking van die honderdjarige bestaan van die Tuin van Herinnering het Breedevallei-munisipaliteit en die Worcester Business Improvement District, tesame met LTS Security in 2020 etlike projekte aangepak om die Tuin van Herinnering op te knap, waaronder (1) die herstel van die fontein van herinnering en die groot poel van herinnerings en die kleiner poel van herinnerings se watervloei; (2) die restourasie van die Kerkpleinkanon; (3) aanbring van gedenkplate met die name van al nege mense wat ere-burgerskap van Worcester ontvang het; (4) die restourasie van blombakke en die poel van herinnering se krake en barste; (5) herstel van monumente; (6) plant van nuwe struike en plante; (6) beveiliging van die tuin deur aanbring van sekuriteitskameras; (7) beveiliging van die tuin met nagtelike patrollies; en (8) geoutomatiseerde besproeiing.
Die aanbring van die blou plaket is ’n verdere uitvloeisel van al hierdie inisiatiewe wat vir die Tuin van Herinnering se honderdjarige bestaan beplan is.
Hierdie inisiatiewe help om die Tuin van Herinnering weer in ’n groot mate tot sy eertydse glorie te herstel. Aangesien die tuin ’n gemeenskapsbate is, moet dit dan ook ’n gemeenskapsinisiatief wees om die tuin te help herstel en voortdurend te verbeter.
Die tuin se nuwe blou plaket bied ’n groot toerismegeleentheid en die ideaal is dat Worcester Toerisme sal voortgaan om die verhaal van Worcester se geskiedenis en geskiedkundige mense te vertel in ’n reeks strategies geplaaste blou plakette wat dan Worcester se erfenisroete verder kan help uitbou.
Indien Breedevallei se ander toerismeverenigings hierby sou aansluit, kan al Breedevallei se blou plakette ’n fassinerende Breedevallei-erfenisroete uitmaak.





