Dit lyk of die drome en ambisies van ’n jong atleet van Worcester verwesenlik gaan word.

Chenique Sas, ’n matriekleerder aan die HTS Drostdy, is as die SA kampioen in die hinderniswedloop by die onlangse SA atletiekbyeenkoms in Germiston gekroon.

Die jong atleet, wat ook ’n lid is van die bekende atletiekgroep Fit2Run, het dié prestasie by haar lang lys toekennings gevoeg.

Sy het in 2018 by die Suid-Afrikaanse kampioenskap derde in die 1 500 m-hindernis geëindig. In 2020 het sy die Wes-Kaapse rekord in die 3 000 m- en die 2 000 m-hindernis verbeter. Vanjaar het sy goud by SA skoleatletiek verower en sy het weer goud by ASA in die 3 000 m-hindernis gewen.

Volgens Sas het haar atletiekloopbaan begin toe sy net ses jaar oud was.

“Ek het hindernis begin doen toe ek 14 jaar oud was en het dadelik ’n liefde daarvoor gekry. Ek geniet elke wedloop,” vertel sy trots.

Sy het atletiek op televisie gekyk en altyd vir haarself gesê sy wil graag doen wat die atlete op televisie doen.

“Ek het elke dag gaan oefen en my liefde vir atletiek ontdek. Ek geniet wat ek doen en het ’n passie vir dié sport.”

Sy sê haar ouers is haar grootste ondersteuners. “My afrigter, Norman Ontong, is die beste. Hy ondersteun my op baie verskillende maniere en daarvoor is ek hom innig dankbaar.

“Ek wil graag baie dankie sê vir almal se ondersteuning. Dankie aan die hele Overhex-gemeenskap vir hul ondersteuning. Ek dink sonder Jesus sou ek dit nie maak die; ek gee Hom al die eer.”

Oor haar jongste prestasie sê sy: “Die SA medalje is een van die grootste mylpale wat ek al bereik het.

“Ek is net dankbaar en bly vir die geleentheid.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article