Hiér is ook Joshlins wat hulp kort – gryp vroegtydig in

Robin Davids van Kindersorg.
Robin Davids, ‘n maatskaplike werker van Kindersorg.

Die ontstellende verdwyning van die sesjarige Joshlin Smith verlede jaar in Saldanhabaai het harte landswyd aangegryp.

Haar ma, Kelly Smith, en dié se vriende Jacquin Appollis en Steveno van Rhyn, is onlangs skuldig bevind aan ontvoering en mensehandel – sonder dat enigiemand iets wyser is oor wat van Joshlin geword het en of sy nog lewe.

Die hof het gehoor dat haar ma, ‘n dwelmverslaafde, haar glo vir R20 000 aan ‘n sangoma verkoop het. Dié voorval het gesprekke oor die veiligheid van kinders ontlok.

Dis egter nié net in ‘n sinkhuis in Saldanhabaai waar ‘n kind verwaarloos en blootgestel is nie. Elke dorp het sy eie Joshlins, wat oorgelaat is aan die genade van ‘n volwassene wat nie die sorg wat hulle nodig het, gee of kan gee nie.

Tydens die bekendstelling van Kinderbeskermingsmaand op Sondag 11 Mei het Sisisi Tolashe, die minister van maatskaplike ontwikkeling, ontstellende syfers bekendgemaak. Meer as 26 000 gevalle van kindermishandeling en -verwaarlosing is in die 2024-’25-boekjaar landswyd aangemeld, met 9 859 gevalle van seksuele misbruik prominent in al nege provinsies. Kort na dié was doelbewuste verwaarlosing met 9 475 gevalle, gevolg deur fisieke mishandeling, waarvan 3 965 gevalle aangemeld is. Daar was 595 gevalle van kinderverlating. Sy het ook gesê swangerskappe by kinders so jonk as tien tot veertien jaar is ‘n groot bekommernis wat dui op ‘n diepgewortelde boosheid teen kinders.

Standard & Breederivier Gazette het by Kindersorg in Worcester gaan aanklop om te hoor hoe dinge plaaslik lyk.

Daar is ‘n netwerk van organisasies om ‘n vangnet vir kinders te probeer skep. Kindersorg werk nou saam met ander organisasies soos die ACVV, WEG, die departement van maatskaplike dienste, Flourish (wat na swanger moeders) omsien, Bowl (wat ondersteuning bied aan mense met verslawing) en Famsa (wat terapeutiese dienste soos huweliks- en rouberading bied.

Swak skoolbywoning

Robin Davids, ‘n maatskaplike werker by Kindersorg, sê werkloosheid is die wortel van baie van die probleme, waar armoede kinders direk raak. Middelafhanklikheid en betrokkenheid by bendes stel kinders bloot aan omgewings waar hulle nie veilig is nie.

“Swak skoolbywoning is ‘n kopseer – daardie kinders is bedags sonder toesig en raak betrokke by dinge wat onveilig is. Hulle word maklik deur bendes ge-werf.

Dikwels besef ouers nie eens dat hul kinders skool misloop nie, omdat hulle skoolklere aantrek en skool toe gaan, maar wegsluip sodra hulle nie dopgehou word nie,” het sy gesê.

“Ons het ook kommer oor tienerswangerskappe. Dikwels gaan die meisies terug skool toe, maar dit gebeur dat die familie nie iemand het om na die baba om te sien nie, of nie kan bekostig om iemand te betaal om na die baba om te sien nie. Dis moeilik om hierdie siklus te breek,” het sy verduidelik.

Benewens ouers wat alkohol misbruik, is daar gevalle waar laerskoolkinders reeds verslaaf is, maar dit is ‘n groter probleem by hoërskoolkinders.

Meld gevalle aan

“Wanneer die ouers nie self kan versorg of nie die kind se belange op die hart dra nie, is dit belangrik dat die gemeenskap namens daardie kind intree,” het Davids gesê. Sy het inwoners aangemoedig om gevalle aan te meld – al doen hulle dit anoniem.

“Mense is dikwels bang dat ons hul kinders wil ‘vat’ – dit is egter die heel laaste opsie. Ons volg ‘n holistiese benadering en probeer so ver ons kan gesinne onder-

steun sodat kinders by hulle kan aanbly. Dit is traumaties vir ‘n kind om verwyder te word en ons wil hulle in hul veilige ruimte hou,” het sy verduidelik.

Kindersorg se eerste stap is om gesinne te help met dienste soos berading en ondersteuning sodat hulle beter funksioneer. Wanneer dit nie werk nie, sal die statutêre roete gevolg word – waar ‘n hof genader word. “As dit nie anders kan nie, sal ‘n kind vir negentig dae in ‘n plek van vei-

ligheid geplaas word, waarna ons hom of haar weer by hul gesin sal probeer plaas.

“Indien daar nie ‘n ander uitweg is nie, mag die kind vir twee jaar in pleegsorg geplaas word. Ná twee jaar word hierdie besluit hersien en kan die kind weer met sy gesin hernu word óf weer in pleegsorg geplaas word,” het sy verduidelik.

Kindersorg wil juis bewusmaking oor die kwessies tydens Kinderbeskermingsweek

– van 29 Mei tot 5 Junie – verskerp. “Hoe meer kennis ons gemeenskappe het, hoe beter sal hulle hierdie probleme kan vermy,” het Davids gesê.

Joshlin Smith
Die saak van Joshlin Smith is maar net een van talle soortgelyke sake landwyd.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article