Wynkelders van Breedekloof, Worcester, Robertson en Montagu het weer eens bewys dat die beste “soetes” uit dié streek kom.
Ses platinum- en tien goue toekennings vir hierdie edelkultivar is by die 19de Muskadel SA-toekennings, geborg deur Vinochem, aangekondig. Dit is by Noop Restaurant in die Paarl aangebied.
Die resultate weerspieël die beoordelaars se mening dat die standaard van inskrywings vanjaar in álle klasse besonder hoog was.
Die sameroeper van die beoordelaarspaneel, Jaco Potgieter, wynmaker van Douglas Green Wines, was veral verheug oor die hoë getal én gehalte van ouer oesjare wat ingeskryf is.
“Hierdie ouer muskadelwyne het pragtig ontwikkel, wat ’n trotse prestasie is wat ons hele wynbedryf moet omhels en bevorder,” sê Potgieter.
Die inskrywings is blind geproe en volgens ’n beproefde puntestelsel beoordeel.
Die eiesoortigheid van die verpakking het ook bygedra tot die finale puntetelling.
Platinum-toekennings
. Mont Blois-wynlandgoed van die Robertson-wynvallei het uitgeblink as die toppresteerder en het twee platinumtoekennings ontvang vir sy Mont Blois Estate Muscadel Harpie 2016 en sy Mont Blois Estate Muscadel Pomphuis 2017.
. Nuy Winery van die Nuyvallei naby Worcester het platinum gewen vir sy Barbieri Idro Red Muscadel 2016.
. Badsberg Wine Cellar naby Rawsonville in die Breederiviervallei het platinum gewen vir sy Hanepoot Jerepigo 2023, wat bewys dat jong wyne net so goed kan presteer soos hul ouer eweknieë.
Goue toekennings
. ’n Volgehoue presteerder, Du Toitskloof Wines van die Breedekloofvallei, het twee goue toekennings ontvang vir sy Hanepoot Jerepigo 2021 en Du Toitskloof Red Muscadel 2020.
. Uit die Robertson-wynvallei het Le Grand Chasseur goud gewen vir sy Habata White Muscadel 2020 en Clairevaux Family Wines vir sy Red Muscadel 2023.
. Aan de Doorns, van die Worcester-streek, het goud gewen vir sy Muscadel Sweet Red 2021.
. Montagu Winery, geleë op die grens van die Klein Karoo, het goud gewen vir sy White Muscadel 2024.
Die familie van muskaatdruiwe word nie net deur Suid-Afrikaners nie, maar ook deur wynliefhebbers oor die wêreld heen hoog aangeprys.
Muskadel SA, wat wynkelders en individue verteenwoordig, het ten doel om bewustheid en gehalte te verhoog in die produsering, verpakking en bevordering van topgehalte gefortifiseerde weergawes van hierdie edelkultivar.
Die groot getal en hoë gehalte inskrywings wat vanjaar ontvang is, getuig van ’n gesonde stand van muskadel in Suid-Afrika én voorspel ’n gesonde toekoms.
Só sê Henri Swiegers, voorsitter van Muskadel SA.
“Slegs ’n uitgesoekte aantal produkte word vir hierdie kompetisie ingeskryf, maar ons het vanjaar meer inskrywings ontvang, en ons probeer altyd nuwe inskrywings lok. Dit is opwindend vir die verbruik sowel as die voortbestaan van muskadel, selfs al geniet verbruikers dit net by geleentheid,” sê Swiegers.





