‘n Besondere edelkultivar mylpaal is gevier toe Suid-Afrika se top muskadel-produsente op Donderdag 12 Junie vir die 20ste jaarlikse Muskadel SA-toekennings in die Paarl saamgetrek het.
Muskadel SA het die wenners tydens ‘n swierige geleentheid by Noop Restaurant, geborg deur Vinochem, aangekondig. Agt produsente het ‘n totaal van 11 toekennings – twee platinum- en nege goue toekennings – verower. Beide ouer en jonger oesjare het uitstekend gevaar terwyl wyne vanuit verskeie streke beloon is.
Slegs twee produsente het vanjaar as toppresteerders geseëvier:
Badsberg Wine Cellar naby Rawsonville in die Breederiviervallei het ‘n platinumtoekenning gewen vir hul Badsberg Red Muscadel 2023.
DTK Wines van die Breedekloofvallei het ‘n platinumtoekenning ontvang vir hul Du Toitskloof Red Muscadel 2020, die oudste oesjaar wat vanjaar bekroon is.

Die sameroeper van die beoordelaarspaneel, Jaco Potgieter, wynkundige van DGB, het nie net lof gehad vir die wenners nie, maar ook vir die paneellede en die organiseerders: “Muskadel SA doen uitstekende werk om hierdie baie spesiale klas van wyne wyer aan die verbruiker bekend te stel.”
Saam met Potgieter op die paneel was gesoute wynmakers en ervare proeërs: Anton Swarts, Kaapse Wynmeester en wynmaker van Spier Wine Farm; Hermias Volgraaff, wynmaker van Montagu Wines; Gert van Deventer, wynmaker van Aan De Doorns-wynkelder; en Pieter Badenhorst, wynmaker en -konsultant van For the Love of Wine. Die paneel proe die inskrywings blind volgens ‘n puntestelsel waarna die eiesoortigheid van verpakking ook vir die finale puntetelling in ag geneem word.
Potgieter het met verwysing na die 20ste weergawe van die Muskadel SA-kompetisie gesê: “Hierdie soort geleentheid is die fynhoutjies wat ons saamneem om eendag wanneer ons oud is, ‘n vuurtjie mee aan te steek waarrondom ons kan sit om herinneringe aan ‘n wonderlike lewe te geniet.”
Goud: Robertson-wynvallei en 2024-oesjaar oorheers
Sewe produsente het altesaam nege goue toekennings losgeslaan met die Robertson-wynvallei wat geskitter het deur ses goue wenners op te lewer. Die 2024-oesjaar het met ses goue toekennings bewys dat jong Muskadel-wyne net so goed kan presteer soos hul ouer eweknieë.
DTK Wines van die Breedekloofvallei het hul platinumtoekenning aangevul met ‘n goue toekenning vir hul Du Toitskloof Hanepoot Jerepigo 2021.
Bon Courage Estate uit die Robertson-wynvallei is een van slegs twee produsente wat spog met twee goue toekennings, vir hul Bon Courage White Muscadel 2024 én hul Bon Courage Rooi Muscadel 2024.
Van Loveren Family Vineyards, ook uit die Robertson-wynvallei, het twee goue toekennings vir hul Christina Noble Late Harvest Muscato 2024 en hul Van Loveren Red Muscadel 2024 ontvang.
Le Grand Chasseur is nog ‘n presteerder uit die Robertson-wynvallei wat goud ontvang het vir hul Habata White Muscadel 2024.
Clairvaux Cellar het ook Robertson se naam hoog gehou deur goud te wen vir hul Clairvaux Wit Muskadel 2023.
Montagu Winery, geleë op die grens van die Klein Karoo, het goud gewen vir hul Montagu Red Muscadel 2024.
Nuy Winery van die Nuyvallei naby Worcester het goud ingepalm vir hul Nuy Inspiration Wit Muskadel 2023.
Uit die muskadel sa-hoofkantoor: lig ‘n glasie op 20 jaar
Volgens Henri Swiegers, voorsitter van Muskadel SA, getuig die groot getal en hoë gehalte van inskrywings wat vanjaar ontvang is van ‘n gesonde toestand van muskadel in Suid-Afrika.
“Hoewel produksie afgeneem het, is wingerde steeds in die meeste wyngebiede te vind,” sê Swiegers. “In Suid-Afrika is rooi muskadel tans die 25ste mees aangeplante druifsoort in die land met 334,24 hektaar en wit muskadel in die 15de posisie met 761,17 hektaar.
Muskadel se kenmerkende blommetjie- en muskaatgeure maak dit ‘n besonderse drankie om per geleentheid te geniet, ook as ‘n innoverende mengeldrankie. “By ons toekenningsfunksie bedien ons Muskatini as die verwelkomingsdrankie,” sê Swiegers. “Hierdie mengeldrankie bevat muskadel, jenewer en suurlemoenskil en is uiters gewild. Lig gerus ‘n glasie saam met ons op ons 20ste viering!”
Gesondheid op 20 jaar van erfenis en innovasie
Vinochem het die Muskadel SA-toekennings vir die derde jaar geborg. “Muskadel is `n baie spesiale deel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se gekiedenis en 20 jaar van hierdie kompetisie is `n bewys daarvan,” sê Marlee Malan van Vinochem. “Ons wil dit graag saam met ons kliënte vier; ons het juis betrokke geraak om terug te gee aan die bedryf en ons kliënte te ondersteun.”
“Suid-Afrikaanse muskadel is van baie hoë gehalte en het die potensiaal om `n groter mark te bereik. Daarom moedig ons almal aan om hierdie wenwyne op die proef te stel; kyk uit vir die goue of platinum Muskadel SA-plakkers op die bottels.”
You must be logged in to post a comment.