Kyk uit vir hierdie sleepwa waar jy jou herwinbare afval vir koopbewyse kan omruil. Foto: Verskaf


’n Plaaslike maatskappy wil seker maak die strate van Worcester is skoon.

Beirowplas Recycling gaan van volgende maand mense se herwinbare afval insamel en in ruil daarvoor kan hulle koopbewyse kry.

“Ons het ’n sleepwa van Polyco vir hierdie doeleinde ontvang. Hulle help klein ondernemings met herwinning. Ek het ’n paar maande gelede by hulle geregistreer en was baie verbaas toe hulle hierdie groot sleepwa by ons kom aflaai. Ek het glad trane in my oë gehad,” vertel Petro van Wyk, die eienaar van Beirowplas Recycling.

Die sleepwa het ook ’n weegskaal waarmee die herwinbare artikels geweeg sal word.

“Wanneer mense hul goed bring, weeg ons dit en gee dan vir hulle die vouchers volgens wat die weegskaal wys. Die vouchers sal by kruidenierswarewinkels gebruik kan word.

“As mense self die goed uitsorteer en byvoorbeeld alle glashouers en alle plastiekgoed saam sit, sal hulle meer kan verdien. Maar as dit alles saam in een sak is, gaan hulle minder kry.”

Jy kan selfs stukkende toestelle soos ketels, mikrogolfoonde en wasmasjiene na die sleepwa toe vat.

Volgens Van Wyk sal die sleepwa op verskillende dae in verskillende buurte wees.

“Ons beplan om op 15 Julie hiermee te begin. Ons sal byvoorbeeld op ’n Maandag in Avianpark wees, en dan weer die volgende dag in Roodewal. Maar ons sal wel voor die tyd ’n rooster met die gemeenskap deel sodat hulle weet wanneer om uit te kyk vir ons.”

Van Wyk het hierdie onderneming in 2008 by die vorige eienaar gekoop en sedertdien is sy baie passievol oor haar werk.

“Ek wil seker maak die goed beland nie op straat nie. Dit is ’n groot probleem in ons dorp en ek dink mense sal meer gewillig wees om hul afval en stukkende goed in ruil vir vergoeding te herwin.” Sy belowe hulle gaan vroegtydig die rooster in die buurte bekendmaak en plakkate oprig wat mense inlig hoe dit alles werk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article