Die Breedevallei Vereniging vir Mense met Gestremdhede (BVAPD) lewer maatskaplike ontwikkelingsdienste aan mense met gestremdhede en hul gesinne in die Breedevallei- munisipale gebied.

Dit sluit die dorpe Worcester, De Doorns, Touwsrivier en Rawsonville in en mense sal gereeld die voertuie en werkers van die organisasie in hierdie dorpe sien beweeg.

Ons organisasie glo daaraan om ontwikkelingsgerigte gemeenskapsdienste te lewer. Dit is van kardinale belang dat die dienste wat ons lewer, beplan en ontwikkel word met die insae, voorstelle en goedkeuring van plaaslike gemeenskapslede en dat die dienste en hulpbronne te alle tye toeganklik en inklusief is vir mense met gestremdhede en hul gesinne.

Alle dienslewering vind plaas met die fokus op die kind en / of volwassene met ’n gestremdheid.

In die meeste gevalle is hierdie die mees weerlose mense in ons gemeenskappe, weens die aard van die toegang tot basiese dienste wat hulle ontneem word.

Ons werkers poog altyd om alledaagse dienste (maatskaplike ondersteuning, gesondheidsorg, opvoeding, werk, ens.) meer toeganklik vir hierdie weerlose mense met gestremdhede en hul gesinne te maak.

Dit is egter ontstellend dat plaaslike gemeenskappe nie altyd die waarde van hierdie dienslewering herken en/of erken nie.

Werkers van BVAPD lewer hierdie noodsaaklike dienste met verskeie vrese: “Is dit moontlik dat ek vandag die slagoffer van misdaad gaan wees?” of “Is dit moontlik dat my weerlose kliënte vandag die slagoffers van misdaad gaan wees / was?”

Hierdie onophoudelike vrese vir hul eie welstand sowel as die welstand van hul kliënte eis ’n geweldige emosionele tol.

Maar, ten einde werklik toeganklike dienste aan weerlose mense met gestremdhede en hul gesinne te lewer, moet hierdie werkers elke dag hul eie vrese oorkom ten einde ondersteuning, hulp en leiding aan hul kliënte – wat waarskynlik dieselfde vrese ervaar weens die aard van die gemeenskappe waar hulle woon – te bied.

Hiermee ’n pleidooi aan ons plaaslike gemeenskapslede om weerlose mense met gestremdhede asook die werkers wat noodsaaklike dienste aan hulle lewer, te respekteer en geleentheid te bied om saam ’n beter toekoms vir plaaslike gemeenskappe te skep.

Wedersydse respek, begrip en samewerking is die steunpilare van sosiale kohesie en ons kan almal in hierdie uitdagende tye wat ons tans beleef, daarby baat vind. Is dit nie miskien tyd dat ons weer die ubuntu-filosofie afstof en leef nie?

Ons werkers is baie kosbaar vir ons – juis omdat hulle hierdie ontwikkelingsgerigte dienste onbaatsugtig in die gemeenskappe waar hulle werk, gaan lewer.

Eerder as om vrees uit te lok, het ons ’n verantwoordelikheid teenoor hierdie werkers om ’n omgewing te skep waarin hulle hul dienste, passie en liefde doeltreffend – en sonder vrees – kan uitleef.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article