Die plaaslike kankerlyer Moniqe Blench (15) bly positief oor haar pad na herstel.


Moniqe Blench (15) van Brandvlei en ’n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Montana in Worcester staan gereed met haar skild en swaard om haar huidige kankerstryd ná ’n jaar en ’n half lange remissie-tydperk wéér aan te pak.

Volgens Monique se ma, Thelma le Roux, het haar dogter vroeër vanjaar lighoofdigheid ervaar en die sensasie dat “haar bene onder haar [wil] ingee” asook maagpyne – ’n simptoom wat ook gerapporteer is gedurende 2021 in haar eerste kankerstryd.

Daarna het Monique dadelik vir ’n positron-emissietomografie (PET)-skandering gegaan, wat bevestig het dat haar seldsame lewerkanker (fibrolamellêre hepatocellutêre karsinoom) terug is en in ’n klier sy verskyning gemaak het.

“Hulle [die dokters] het ’n klein kliertjie naby haar lewer ontdek wat moontlik kanker bevat, en die enigste oplossing was om die klier en van die omliggende kliere uit te haal, ingeval die kanker ook daarheen versprei het. Die operasie wat op 31 Mei gedoen is, het goed afgeloop,” sê Thelma.

“Volgens die onkoloog is daar ongeveer twee plekke in die liggaam waarheen die kanker kan versprei voordat dit haar longe bereik. Om die kanker in sy spore te stop en seker te maak dat dit nie haar longe bereik nie, moet sy bestraling in haar buik kry,” het Monique se ma verduidelik.

Die bestralingsterapie sal Maandae tot Vrydae vir vyf weke duur.

Die kinkel in die kabel is egter dat Monique haar vrugbaarheid kan verloor ná die bestraling, en om dié negatiewe uitwerking te behandel, moet van haar eierselle gevries word, wat ’n toekomstige swangerskap moontlik kan maak.

“Op 22 Junie het Monique Tygerberg-hospitaal se vrugbaarheidskliniek besoek, wat voorgestel het dat sy 15 eierselle vries,” volgens Thelma.

Die naald wat gebruik word om die eierselle te oes, kos R3 500, en die eerste buis om die eierselle te stoor kos R1 000 (wat tot drie eierselle kan stoor), en daarna kos dit R750 per buis.”

Thelma het ook verduidelik dat haar dogter begin Julie met die hormoonbehandeling (R4 500) moet begin om genoeg eierselle te produseer teen middel Julie en so gou moontlik daarna haar bestraling te begin.

“Ons [Monique en haar familie] soek dus ongeveer R11 500 tot R12 000 vir die behandeling by die vrugbaarheidskliniek.

Tydens Monique se vorige kankerstryd is 75% van haar lewer verwyder en het sy ook sepsis opgedoen ná haar derde chemobehandeling toe sy ’n negatiewe reaksie ervaar het.

“Sommige dokters het [op Dinsdag 4 Januarie 2022] opgegee en gesê daar is geen manier dat Monique sou oorleef om die naweek te sien nie,” volgens haar ma.

Nietemin het dié jong vegtertjie almal verkeerd bewys en bly leef. Sy is toe in Februarie huis toe gestuur, ná ’n maand in die waakeenheid.

Buiten Monique se huidige kankerstryd ervaar sy ook tandprobleme wat binnekort behandel moet word.

Op 13-jarige ouderdom het sy die tandarts besoek wat verduidelik het dat sy te stadig groei vir haar ouderdom en te veel tande in haar mond het, wat toe beteken het dat haar groei vir agt maande gemonitor is met geen toename in lengte of gewig nie.

“Ná ’n paar jaar het Monique se ouers besluit om die tandarts weer te besoek, wat bevestig het dat daar ’n tand is wat in haar verhemelte sit en wil uitkom, en nog een reg bo haar boonste ry tande,” volgens Thelma.

Hoewel dié probleem nie verwant is aan haar kanker nie, is dit ook ’n mediese toestand wat tot haar ongemak bydra.

“Ons siekefonds dek nie die prosedure nie en ons moet R6 000 neersit voor die tandverwyderingsoperasie, en draadjies daarna.”

In ’n televisie-onderhoud met WoesTV moedig Monique ander aan om “positief te bly” en “elke dag te leef asof dit hul laaste is”.

. Donasies kan gemaak word in die Capitec-spaarrekening met die rekening­houer as MC Blench. Die rekening­nom­mer is 1638 205 904 en die takkode 40010.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article