’n Worcesterse familie kort dringend hulp om geld in te samel vir hul sewejarige seun, Henri.
Beide Henri Koekemoer se ouers is doof, en toe hy in 2016 gebore is, was sy gehoor in albei ore normaal.
“Dit was vir ons as dowe ouers ’n wonderwerk, want ons het geweet watter groot uitdagings vir ’n dowe kindjie en later as ’n volwassene voorlê,” verduidelik sy ma, Anéll Koekemoer.
Henri is in 2020, op vierjarige ouderdom, na ’n voorskoolse klas, maar sy ma het ’n verandering in sy gedrag begin oplet.
“Ek het opgelet dat hy moeilik aanpas en sy gedrag in die middag het ook drasties verander. Ek het vermoed dat hy sensoriese prosesserings-disfunksie (SPD) ervaar. Dit is later deur ’n arbeidsterapeut bevestig.”
Sy het toe besluit om hom tuis te skool en dadelik ’n groot verandering opgemerk.
“Ek sal nooit vergeet hoe sy gesiggie altyd gestraal het wanneer hy ’n nuwe les reggekry het of nuwe dinge geleer het nie. Om hom te sien groei, was vir my ’n wonderlike voorreg. Hy was altyd gereed en entoesiasties om te leer,” verduidelik sy.
Toe Henri vyf jaar oud was, het sy gehoor verswak.
Een middag in die tuin, terwyl Anéll en Henri buite besig was, het hy skielik gesê hy kan nie lekker hoor nie.
“Ek het skielik besef dat daar fout was met Henri se gehoor.”
Henri het toe ’n oudioloog gaan sien en moes gehoorapparate kry.
Sy gehoor het egter sedert Mei tot in November 2022 al vinniger verswak en hy moes sterker gehoorapparate kry.
“Met die erge graad van Henri se gehoorverlies het dit gou duidelik geword dat ’n kogliêre inplanting onafwendbaar is. Weens die progressiewe aard van sy gehoorverlies en sy ouderdom moes die inplanting dringend gedoen word.”
Hy het ’n inplanting vir elke oor nodig. Henri het Maandag 27 Maart sy eerste inplanting in sy regteroor ontvang.
Die familie moet egter nou eers nog geld insamel sodat Henri die inplanting in sy linkeroor kan kry.
Die koste vir die tweede operasie beloop R291 525.
Die familie het ’n BackaBuddy-blad begin om die nodige geld in te samel.
“Ons het pas goeie nuus gekry. Arie Fourie van die Charl Munnik-stigting vir kinders en Woes TV gaan ons help om geld in te samel,” vertel Anéll.
Fourie verduidelik die Charl Munnik-stigting vir kinders in samewerking met Woes TV beplan ’n show vir Augustus om die familie te help om geld vir Henri se ander inplanting in te samel. Meer besonderhede sal nader aan die tyd op hul Facebook-blad bekend gemaak word.
Mense wat intussen geld wil skenk, kan BackaBuddy se webtuiste besoek en dan soek vir “Henri hoor weer”.


