Inwoners van Rawsonville is te bang om die strate in te vaar weens wettelose haweloses.


’n 67-jarige man is Saterdag 28 Oktober wreed aangerand nadat ’n onderonsie met hawelose inwoners van Rawsonville ontstaan het.

Volgens ’n familielid van die man kom hierdie vyandigheid tussen die haweloses en die man en sy vrou al tien maande aan.

“Die man en sy vrou bedryf ’n koswaentjie. Tien maande gelede wou hierdie hawelose man kos by hulle hê, maar die kos was af en die vrou het dit nie gegee nie, want ingevolge die gesondheidswet mag jy nie ou kos vir mense gee nie. Van daar is die mense gedurig gedreig,” verduidelik die familielid.

Op die 28ste het die einste familielid en sy vrou ’n permit gekry om voor ’n winkel self ook kos te verkoop.

“Daar het toe ’n onderonsie tussen hulle en ons ontstaan. Die einste hawelose man het toe geld van ons geëis omdat ons kwansuis op sy sypaadjie staan. Gelukkig het ander mense verbygekom en ons gehelp. Die hawelose man is toe daar weg. ’n Rukkie later het die 67-jarige man toe pepersproei gebring, maar terwyl hy oor die pad aangestap het, het die hawelose man op hom afgepyl en skree ‘vandag maak ek jou vrek’. Die man het hom met die pepersproei in die gesig gespuit.”

Die hawelose man het toe weggehardloop en sy oë uitgevryf.

“Hy het daar mal geraak omdat sy oë brand en toe ’n bottel uit sy sak gegryp en dit stukkend gekap en weer op die man afgestorm. Hy het die stukkende bottel met mening na die man gegooi met die doel om hom dood te gooi. Die bottel het hom teen die been getref en die hoofslagaar morsaf gesny.”

Die man moes toe ’n noodoperasie van drie ure ondergaan, waartydens sy hoofslagaar geblok moes word en ’n ander aar herlei moes word om bloed na sy voet te voer.

“Die man se kleindogter het reg langs hom gestaan toe dit gebeur het, en as daai bottel haar getref het, sou sy sekerlik dood gewees het.”

Die hawelose man is ná die voorval in hegtenis geneem.

“Sy vrou intimideer egter nou die beseerde man se vrou. ’n Klagte van intimidasie is ook teen haar ingedien.”

Hierdie familie, asook talle ander inwoners op die dorp, het Standard & Gazette meegedeel dat hierdie groep hawelose mense ’n skrikbewind in die dorp voer.

“Hulle loop die paaie vol, vloek mense en gooi mekaar met bottels. Hulle teiken veral oumense en beroof hulle, dan hardloop hulle weg. Die man wat nou die dag met die bottel gegooi is, se vrou is ná die voorval ook met die dood gedreig. Sy is ’n senuweewrak. Daai hawelose man se vrou hits die ander aan. Die mense van die dorp is bang om in die dorp te stap. Ekself is ook al bang om alleen te ry. Vrydae, wanneer dinge gewoonlik rowwer is, laat ek my man of seun my by die werk aflaai. Die polisie ignoreer doodeenvoudig net klagtes oor hierdie groep mense,” het die inwoner verduidelik.

Die eienaar van ’n sakeonderneming in die dorp het ook sy mening oor hierdie berugte groep gedeel.

“Dit kom al ’n baie lang tyd aan. Die probleem is baie erg. Soveel vergaderings is al met die polisie, die burgemeester en ander organisasies gehou, maar geen oplossings het al na vore gekom nie. Daar is al soveel klagtes teen hierdie groep mense ingedien, maar die polisie doen niks daaraan nie; hulle voer aan dis goed wat deur wetstoepassing hanteer moet word. Hoekom trek hulle net die skouers op? Hoekom moet iemand eers seerkry of doodgemaak word voordat hulle iets wil doen? Die dorp se mense is mismoedig.”

Standard & Gazette het Maandag (6 November) ’n navraag oor die voorval op 28 Oktober aan die Rawsonville-polisie gestuur. Volgens die polisie is die hawelose man dieselfde dag in hegtenis geneem en was hulle nie bewus dat die bejaarde paartjie die afgelope tien maande gedurig deur die haweloses geteister is nie. Volgens hulle het die paartjie nooit ’n klagte aangemeld nie.

Die verdagte het Maandag 30 Oktober die eerste keer in die hof verskyn. Dit is onduidelik wanneer hy weer moet verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article