Worcesteriete wat koppe bymekaar­gesit het om haweloosheid in die dorp aan te pak, is optimisties dat ’n belowende nuwe plan begin vorm aanneem.

Die Meer As Haweloosheid-inisiatief betrek reeds meer as 40 individue en instansies wat bereid is om by te dra tot ’n omvattende maatskaplike program vir hawelose mense in Worcester. Dit sluit selfs geboue in wat moontlik deur Transnet beskikbaar gestel sal word vanwaar die program bedryf kan word.

“Vir die eerste keer het ons die kerk, staat, besighede en die gemeenskap se inkoop. Daar is ’n ontploffing van energie,” sê ds. Andri Eloff, een van die sameroepers van die inisiatief. Hy is opgewonde oor ’n program wat geen bestaande organisasie se werk wil “oorneem” of organisasies laat kompeteer nie, maar eerder almal se sterkpunte saamtrek in ’n gesamentlike oplossing.

Dit skop vandeesmaand af met ’n navorsingspan wat ’n volledige opname van hawelose inwoners en hul behoeftes begin. Daarna sal ’n maatskaplike werker vir elkeen wat aan die program deelneem, ’n onafhanklike ontwikkelingsplan opstel.

Daardeur sal hulle toegang kry tot berading en arbeidsterapie, geestelike bediening, vaardigheidsontwikkeling en die bystand van hul toegedeelde maatskaplike werker wat die pad van assessering tot by herintegrasie met elke individu kan stap.

Vir ’n dak oor die kop terwyl hulle die program voltooi, sal hawelose inwoners hopelik binnekort ook toegang hê tot ’n oornagskuiling met eet-, stort- en slaapgeriewe, wat vir vasgestelde ure oornag oop sal wees.

Eloff en sy kollegas, met die ondersteuning van die Worcester Sakeverbeteringsdistrik (WBID), voer reeds onderhandelings met Transnet vir geboue waar hierdie skuiling gevestig kan word, asook ’n dagsentrum van waar die dienste van die Meer As-program gelewer kan word. Hier sal kundiges en vrywilligers van die betrokke organisasies om die beurt diens doen.

“Dit gaan oor ’n beter manier van help,” sê Eloff. “Hier is reeds baie mense wat noodverligting doen, maar as jy ’n verhouding bou met mense, kan jy met hulle ’n pad van rehabilitasie, ontwikkeling en herintegrasie stap.”

Eloff sê die koördineerders wéét dat almal nie aan die einde van die program in ’n werk sal instap nie, maar hulle wil elke mens help ontwikkel tot die beste van hul eie vermoë en aspirasies.

“Die hele program word gebou op liefde en deernis vir alle mense, ongeag sy of haar omstandighede. Ons wil hierdeur mense help met die herstel van goeie verhoudings met self, met ander mense, met God en met die omgewing en kreatiwiteit,” sê hy.

Worcesteriete sal kan help

Eloff sê die welwillendheid en goeie energie wat nou rondom Meer As heers, maak hom opgewonde en hy moedig die res van Worcester aan om die projek ewe entoesiasties te ondersteun.

Een manier sal na verwagting wees deur Worcester BIDcoin te koop. Dit is koepons wat by deelnemende kerkkantore beskikbaar sal wees en sal in plaas van geld aan hawelose mense gegee kan word om hulle dan toegang tot die program te gee.

Eloff en sy kollegas glo haweloosheid is ’n simptoom van ’n samelewing wat met reuseprobleme worstel wat geld nie kan regmaak nie. Dit is waarom hulle oortuig is van ’n baie meer holistiese oplossing. “Ons wil mense innooi en rááksien. Ons moet verhoudings bou ter wille van die menswaardigheid van alle mense. As ons nie die grens kan oorsteek na ’n ander ou se wêreld nie, gaan ons vir altyd simptome behandel.

Die groot droom is dat hierdie model soveel vrugte vir hawelose mense én die plaaslike gemeenskap sal afwerp, dat dit na ander dele van die land sal uitkring. Maar, intussen glo Eloff die gemeenskap moet eerstens by homself begin.

“Alles wat ons nodig het, is reeds hier. Worcester moet Worcester gesond kry. Daar ís oplossings vir haweloosheid.”

Mense wat graag ’n bydrae tot Meer As Haweloosheid wil maak, kan ds. Andri Eloff by 083 654 3939 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article