Ussiel Langeveldt (losskakel) van Hammies vat met groot krag die bal vir ’n pragdrie na die doellyn.Foto: Chantal Martinus

Credit: SYSTEM

Die Young Hamiltons-rugbyklub het Saterdag klinies korrekte rugby gespeel en die Montagu-klub geheel en al met 31-17 uitoorlê.

Die hoërisiko-benadering wat Hammies gevolg het, het hulle van meet af op die voorvoet geplaas toe Claudio Matolla (regtervleuel) sommer in die vierde minuut vir Hammies gedruk het.

Luciano Truter (heelagter) se suksesvolle doelskop teen ’n sterk wind in het die telling 7-0 gemaak.

Hammies is in die 18de minuut weer oor toe Matolla sy tweede drie druk nadat hy ’n bal, wat deur Shaun Fata (losskakel) deurgeskop is, toegeval het.

Ook die moeilike skop is deur Truter oorgeklits om Hammies met 14-0 te laat voorloop.

Montagu kry toe hul eerste punte nadat ’n bal in Hammies se gebied laat val, deurgeskop en deur hul binnesenter opgeraap en gedruk is. Ná ’n suksesvolle doelskop loop Hammies 14-7 voor.

Montagu kry hierna ’n strafskop ná onkantspel en verdoel om steeds met 14-10 agter te loop.

Kort voor rustyd kry Hammies ook ’n strafskop wat deur Truter verdoel word vir ’n 17-10-voorsprong.

Nietemin gaan Montagu nie lê nie en druk net voor halftyd ’n verdoelde drie wat die rustydtelling 17 elk maak.

Ná rustyd speel Hammies meer doelgerig en gaan oor toe Ussiel Langeveldt (senter) ’n losbal opraap en deur Montagu se verdediging klief om onder die pale oor te val.

Hierna begin Hammies uit hul eie gebied hardloop, waarna Truter die bal ontvang, verskeie verdedigers klop en ’n binne-aangee na Ettinique Adams uitvoer.

Adams hardloop toe met verbysterende vaart deur omtrent die hele Montagu-klub en druk onder die pale vir ’n maklike doelskop wat die eindtelling op 31-17 te staan bring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article