Young Hamiltons moes Saterdag diep delf om ’n begeesterde Bonnievale United op die Esselenpark-stadion te klop.
Die tuisspan, wat teen rustyd al 19-5 voor was, moes in die tweede helfte omtrent walgooi toe Bonnievale ’n geweldige aanslag van stapel gestuur het.
Hammies, wat veral in die tweede helfte met elke moontlike bal uit sy eie gebied wou hardloop, het homself so byna in die voet geskiet toe hy die bal (reeds in kontak) binne sy kwartgebied verloor het, wat Bonnievale binne trefafstand gebring het, met die telling op daardie tydstip 26-21 en genoeg speeltyd oor.
Hammies, wat in dié stadium met Luciano Truter op skrumskakel gespeel het nadat die skrumskakel, Marquin Swarts, die veld verlaat het, kon net nie in die laaste 20 minute aan die gang kom nie en het selfs voorlangs momentum verloor, met Bonnievale wat sake al hoe meer begin beheer het.
Hammies het egter ’n broodnodige bonuspunt vir sy vier drieë verdien.
Vir Hammies het Rowydill Martin, Garth Jacobs, Siddeeq Baadjes en Jenico Truter drieë gedruk. Truter het drie daarvan verdoel om Hammies die oorwinning te help gee.
’n Wending in die wedstryd was toe die skeidsregter, Joswin Jacobs, ’n strafskop aan Bonnievale toeken omdat die noodhulpbeampte van Hammies, Charljon Beukes, volgens hom te na aan die kantlyn gestaan het. Bonnievale het pale toe aangelê en drie punte gekry, wat hom binne trefafstand van Hammies (op daardie tydstip 19-13 voor) gebring het – tot groot ongelukkigheid van die tuisskare.
Vir Hammies het Jean-Paul Valla voorlangs uitgeblink voordat hy vervang is, terwyl Charlton Isaacs ook als gegee het. Agterlangs het Jacobs uitgestaan, met Truter wat sy waarde elke keer as hy aan die bal geraak het, onderstreep het. Hy het immers ook die bonuspuntdrie met ’n stukkie individuele briljantheid gedruk, wat die skare in vervoering gehad het.
Hammies-B het sy eerste ligastryd 24-0 gewen, terwyl die C-span 20-3 gewen het.
Hammies reis Saterdag na Swellendam. Busvervoer vertrek om 11:00 van Esselen Tavern.





