Garth Jacobs (heelagter) van die Young Hamiltons rugbyklub se A-span druk die wendrie vir sy span.Foto: Caleb Martinus


Die A-span van Young Hamiltons-rugbyklub van Worcester het die afgelope Saterdag (1 April) vriend en vyand verras deur die hoogaangeskrewe Robertson RVK met 30-26 te klop voor ’n volgepakte stadion in Worcester by die begin van die Grootuitdaagbeker.

Hekpersoneel by die stadion het hul hande vol gehad met derduisende toeskouers wat vir dié stryd opgedaag het.

Net soos verlede seisoen se laaste stryd, toe meer as 5 000 rugbygeesdriftiges opgedaag het, het ’n rekordskare van byna 8 000 toeskouers vir dié stryd opgedaag.

Die wedstryd het begin met Hammies wat sommer met die afskop ’n strafskop gekry het ná ’n oortreding, maar dié poging was onsuksesvol.

Robertson het sy intensies duidelik gemaak, en het die volgende strafskop afgedwing wat deur Collin Willemse (losskakel) oorgeklits is.

Hammies het egter koelkop gebly, en 15 minute later ook sy eerste punte met ’n strafskop aangeteken.

Die telling was daarna 6-3 in Robertson se guns toe dié span beloon is met nog ’n strafskop.

Hammies het hierna punte gekry toe Ethan Setera (binnesenter) ’n drie gedruk het nadat hy deur Robertson se verdediging geklief het. Met die doelskop het Hammies 10-6 voorgeloop. Robertson het daarna gaan druk ná ’n rolmaalbeweging en die drie verdoel om met agt minute oor in die eerste helfte 13-10 voor te loop.

Kort voor rustyd het Willemse weer geslaag met ’n strafskop wat die telling teen rustyd op 16-10 in Robertson se guns te staan gebring het.

Ná rustyd het Hammies weer eens verwoed aangeval, met die span se plaasvervangervleuel, Jenico Truter, wat nog ’n drie gedruk het.

Die telling was toe 16-15 vir Robertson nadat Truter nie sy jonger broer se drie kon verdoel nie.

Robertson het hierna weer oorgegaan, maar met Collin Willemse wat ’n besering opgedoen het, is die drie nie verdoel nie en die telling was 21-15 vir Robertson.

Hammies se losskakel, Ussiel Langeveld, het hierna gaan druk, maar het nie suksesvol oorgeskop nie, wat Hammies met een punt agter laat loop het.

Robertson het kort hierna oortree, waarna Hammies weer die voorlopers was met ’n suksesvolle strafskop met die telling nou 23-21 in Hammies se guns.

Met die uurglas wat begin leegloop het, het Garth Jacobs (heelagter) ’n drie gedruk tot die groot vreugde van die duisende Hammies-ondersteuners.

Truter het met die doelskop geslaag (30-21 vir Hammies), maar reg teen die einde het Robertson weer gedruk (sonder om te verdoel) wat die eindtelling op 30-26 te staan gebring het.

Saterdag beloof nog opwinding op die veld wanneer Hammies in die jaarlikse Easter Clashin Worcester teen Worcester Villagers speel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article