Young Hamiltons RVK het verlede Saterdag die Blou Voëls van Happy Valley in Bonnievale met klinies korrekte rugby uitoorlê. Die Peoples-span het geensins sy honderde ondersteuners wat die wedstryd bygewoon het, teleurgestel nie en skitterende hardlooprugby met rotsvaste verdediging opgedis.
Die agterste driehoek van Damian Hopley, Garth Jacobs en Claudio Matolla was skitterend op die aanval en dodelik elke keer as hulle moes verdedig. Die ster-vleuel van Blue Birds, Lleyton Davids, is menigmaal deur Jacobs en Matolla tesame met die kaptein, Rowydill Martin, in sy spore gestuit, wat Blue Birds se ritme erg versteur het. Daarbenewens het Hammies sonder nege van sy gereelde eerstespanspelers na Happy Valley gereis, maar die jongelinge wat gekies is, het nie teleurgestel nie.
Die jong slot Lethan de Bruyn het ’n skitterende wedstryd gehad en selfs agter die Blue Bird-doellyn gaan kuier, terwyl die skitterende veelsydige agterspeler Ussiel Langeveldt die tuisspan se verdediging telkemale oopgeskeur en drie keer agter die pale gekuier het vir sy derde driekuns in die eerste ronde van die Bolandse Grootuitdaagliga. Hy is egter reg teen die einde van die veld af gestuur met ’n geelkaart ná ’n hoogvat op Blue Birds se senter.
Vir Blue Birds het Lleyton Davids twee keer gaan druk en ook ’n strafskop oorgeklits en een drie verdoel terwyl hul bobaas-senter ook oor die doellyn is vir hul 20 punte. Hammies se driedrukkers was Ussiel Langeveldt (3) en Lethan de Bruyn (1). Langeveldt het drie verdoel en drie strafskoppe oorgeskop vir sy span se 35 punte. Hammies wen dus 35-20 terwyl Hammies B net-net met 10-88 bo was. Hammies C het die suksesvolle dag met ’n 24-20 oorwinning afgesluit.
Hammies hou Maandagaand 10 Junie om 18:30 ’n ledevergadering. Alle lede moet dit bywoon.
Die klub geniet Saterdag ’n loslooitjie en hervat sy tweederonde- ligaverpligtinge op 15 Junie teen Bonnievale United in Bonnievale.





