Young Hamiltons het die Saterdag (22 April) in die eerste ligastryd teen Worcester Villagers ’n duidelike boodskap aan talle teenstanders uitgestuur toe hulle Villas met ’n reuse-oorwinning van 40-0 geklop het.
Hammies was meedoënloos in sy benadering en het Villa’s se planne met geweldige plettervatte heeltemal omvergewerp en hul wedstrydplan totaal en al laat skipbreuk ly.
Villa’s het in die eerste 15 minute ’n geweldige aanslag van stapel gestuur, maar hul elke keer teen rotsvaste verdediging vasgeloop.
Hoewel Villa’s teen ’n redelike sterk wind gespeel het, het hulle die bal lekker lug gegee.
Hammies daarenteen het die voordeel van die wind goed gebruik en elke geleentheid wat hulle in punte kon omskep, gebruik. Soveel so dat hulle teen rustyd al 35-0 voor was, met drie drieë reeds aangeteken.
In die tweede helfte was Hammies meer doelgerig, maar selfsugtigheid en oorgretigheid het in baie gevalle verhoed dat die span meer punte aangeteken het.
Hoewel Hammies nou teen die wind gespeel het, is hulle nooit onder druk geplaas deur Villa’s nie en was in alle fasette van die wedstryd steeds in beheer.
Villa’s het in die laaste 25 minute van die wedstryd eers met 14 en kort daarna met 13 spelers op die veld uitgedraf weens rooikaarte wat aan Nathan Setera (agsteman) en Serguyl Uys (slot) gegee is. Dit het ’n demper op die wedstryd geplaas en Hammies heeltemal die oorhand gegee.
Hardnekkige verdediging deur Villa’s het egter verhoed dat die telling groei en Hammies kon slegs een drie aanteken toe Ettinnique Adams (plaasvervanger-senter) drie verdedigers klop om onder die pale oor te gaan. Truter verdoel die drie, wat die eindtelling op 40-0 vir Hammies te staan gebring het.
Hammies se B-span het ook met 17-10 gewen nadat die telling deurentyd gelykop was, terwyl Hammies se C-span die dag suksesvol begin het met ’n 15-6 oorwinning teen Villa se C-span.
- Saterdag (29 April) reis Hammies na Ashton, terwyl Worcester Villagers tuis speel teen Swellendam.
Busse vertrek teen R60 per persoon vir ondersteuners om 11:30 vanaf Esselen Tavern in Worcester.
Verder in die Langebergstreek speel Protea De Doorns ook tuis teen Bonnievale Blue Birds, terwyl Worcester Perseverance ’n loslootjie het.


