Robertson RVK moes Saterdag enduit gefokus bly om ’n hoogs gemotiveerde Young Hamiltons op die Kallie de Wet-stadion in Robertson te klop.
Die reuse-skare wat die stadion al teen 12:30 begin volpak het, het duidelik waarde vir hul geld in al drie wedstryde vir die dag gekry asof dit ’n derbystryd was.
Teen 16:00 het die stadion uit sy nate gebars soos wat duisende Hammies- asook Robertson-ondersteuners steeds by die hekke ingestroom het.
Die A-span-stryd het op ’n somber noot vir Hammies begin toe die span sommer met die afskop gestraf is omdat ’n speler glo in die lug gespeel is. Robertson het met die strafskop uit hul gebied gekom en was gou 6-0 voor ná twee strafskoppe wat in skrumtyd aan hulle toegeken is.
Robertson se eerste drie volg kort hierna toe die agsteman, Diaan van der Walt, ná ’n rolmaalbeweging oorgaan en Collin Willemse verdoel vir ’n 13-0-voorsprong. Manfred Maarman (skrumskakel) gaan hierna oor toe hy steelkant om breek ná ’n skrum op Robertson se doellyn.
Luciano Truter misluk met die doelskop, maar verdoel agt minute daarna Irwin Malapi (vaskopstut) se pragdrie, waar hy drie Robertson- spelers uit die pad vee en langs die pale oorval om Hammies met slegs een punt (13-12) te laat agterloop.
Jovelian De Koker (losskakel) gaan hierna vir Robertson oor en met die suksesvolle doelskop loop Town nou 20-12 voor. Hammies veg kliphard terug en word beloon toe Regardt Valla (haker) kort voor rustyd druk en Truter verdoel om die rustydtelling 20-19 te maak.
Ná rustyd en met verskeie plaasvervangers van Robertson op die veld, breek die vleuel Lindsay (Grimmy) Eksteen deur ’n gaping en toe hy voorgekeer word, is Jenno April by om in die linkerhoekie af te rond.
Willemse misluk met die doelskop en Town is 25-19 voor.
Die Robertson-aanhangers skrik groot toe Hammies hard terugslaan en ná ’n goeie agterlynbeweging deur middel van die senter Ethan Setera ’n vyfpunter kry en Truter verdoel om die besoekers met 26-25 te laat voorloop en ook hul bonuspunt-drie was.
Die einste Eksteen kom met speeltyd feitlik verstreke tot Town se redding toe hy ook in die hoekie oorgaan ná ’n volle agterlynbeweging. Willemse kon nie verdoel nie en Town is nou 30-26 voor.
Hammies gee egter nooit bes nie maar omskep nie sy terugvegpoging in punte nie. Die wedstryd eindig op die middellyn nadat Robertson die bal uitskop vir ’n 30-26 oorwinning.
Hammies-B wen sy rillerstryd 12-11 terwyl ’n onverklaarbare drie in die doodsnikke Hammies-C met 22-19 laat verloor. Hammies reis dié naweek weer wanneer hy Blue Birds van Bonnievale gaan pak. Busvervoer vertrek om 11:00 vanaf Esselen Tavern.




