Young Hamiltons is verlede Saterdag in groot getalle Robertson toe om Robertson RVK te pak.

Teen 15:00 was Van Zylstraat-stadion stampvol soos al twee spanne se ondersteuners ingestroom het om hul spanne te ondersteun.

Die A-span-wedstryd het soos ’n eindstryd begin met ’n gebrul van die reuseskare en die twee spanne wat reg was vir aksie.

Robertson, met sy swaarder pak voorspelers, het voorlangs probeer oorheers terwyl Hammies ’n vlugvoetige agterlyn gekies het en die septer agterlangs wou swaai.

Hammies het vroeg hul voorneme gewys en was gou 8-0 voor nadat die heelagter, Garth Jacobs, ná ’n agterlynbeweging gaan afrond het. Ambrose Steyn se doelskop uit die hoek was mis, maar was minute later in die kol met ’n moeilike strafskop teen die wind.

Robertson het sy eerste punte in die 18de minuut aangeteken toe sy losskakel, Collin Willemse, gedruk en self verdoel het (telling 8-7). Briljante voor- en agterspel kort voor rustyd het Robertson 19-8 laat voorloop ná ’n verdoelde drie asook ’n drie waar Willemse met die doelskop misluk het.

Ná rustyd het Hammies met nuwe woema gespeel en Ussiel Langeveldt (senter) het in ’n stukkie individuele briljantheid verskeie verdedigers geklop en onder die pale gedruk (telling 19-15 – Hammies net vier punte agter ná ’n suksesvolle doelskop van Steyn). Net hierna het Dylan Alberts (plaasvervangerflank) ná volgehoue druk langs die pale gedruk en Steyn het weer verdoel (Hammies 22-19 voor).

Slegs die rotsvaste verdediging van al twee spanne het verdere punte verhoed. Robertson het ’n gelykmaker-strafskop gekry nadat Hammies se plaasvervanger-heelagter aan die bal geklou het en gestraf is. Willemse het met duisende Robertson-ondersteuners wat die asem dophou doodseker gemaak. Dié belangrike strafskop het die telling 22 elk gelykop gemaak. Albei spanne het hierna alles gegee om die wedstryd te wen, maar die stryd het 22 elk geëindig.. In die ander wedstryde het Hammies B 27-12 vasgeval terwyl sy C-span nog ’n tree nader aan ligaglorie gekom het met ’n 13-8-oorwinning. Die span is boaan die punteleer en moet nog net een uit drie wedstryde wen om sy afdeling in die C-span-liga te beklink.

Saterdag speel Hammies in sy eerste tuis-derby ná twee jaar teen Worcester Villagers.

Kaartjies is reeds beskikbaar en kan by die verskillende punte – soos op Facebook aangedui – gekoop word. Kaartjies sal ook Saterdagoggend van 10:00 af by die hek beskikbaar wees. Toeskouers word gevra om vroeg op te daag om lang rye te vermy.

Geen motors mag op die bult parkeer nie en sal by die tennisklubhuis se hek in Fairbairnstraat ingelaat word.

Toeskouers sal slegs te voet by die hoofhek ingelaat word. Kaartjiehouers sal by ’n spesiale hek langs die hoofhek ingelaat word om vloei te verseker.

Parkering buite die stadion is op eie risiko en Young Hamiltons aanvaar geen verantwoordelikheid vir voertuie buite Esselenpark-stadion nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article