Anna-Marie Koen met haar boek Gulpflerrie.Foto: Nasifa Sulaiman


Kikker jou sekslewe op.

Dis hoe die Worcesterse skrywer Anna-Marie Koen haar eerste boek, Gulpflerrie, wat op die ware fantasieë van professionele vroue gebaseer is, beskryf.

“Die boek is volwasse leesstof en gaan oor erotiese stories van vroue wat hul seksuele fantasieë met my gedeel het. Ek het 21 stories daaroor geskryf. Die kortverhale is eksplisiet, maar smaakvol,” sê Koen aan Standard.

Volgens Koen, wat 25 jaar as sielkundige gepraktiseer het, het dit haar twee jaar geneem om die boek te skryf en nog ’n jaar om die boek te publiseer.

“Ek is baie opgewonde oor my eerste boek. Ek glo mense gaan dit baie geniet,” sê sy.

Sy sê vroue ervaar liefdesromans as terapie en wil graag uit hul alledaagse lewe weggevoer word. Dit het die boek, asook hoe sy dit benader het, beïnvloed.

Koen sê sy wil hê mense moet verstaan seksuele fantasieë is ’n normale, gesonde deel van menslike seksualiteit.

Sy sê haar agtergrond as sielkundige het gewis met die skryf van die boek gehelp. “Onderliggend in die boek – en dis waar die sielkundegedeelte inkom – is lewenslesse. Elke storie bevat óf ’n spreuk, lewenslesse óf belangrike dinge soos depressie, egskeiding en die dood van ’n geliefde en wat daarmee gepaard gaan. So, dis nie net seksstories nie. Ek glo daar is ’n behoefte aan so iets in Afrikaans,” vertel sy.

“Om almal se bydraes te kry, was lekker. Die uitdaging was om die storie rondom seksuele fantasie te skryf. Om name vir al die karakters te kry was ook ’n uitdaging,” onthou Koen.

Die doel van die boek is om paartjies se sekslewe op te kikker. Ek voel veral Afrikaanse vroue praat nie sommer spontaan met hul maats oor hul behoeftes nie.

“Gulpflerrie is lekker kortverhale wat hulle aan mekaar kan voorlees en hulle kan help om oor hul intieme lewe te kommunikeer, want die boustene vir enige langtermynverhouding is liefde, vertroue en kommunikasie. As net drie paartjies iets uit my boek leer, het ek my doel bereik,” sê Koen.

Dr. Emile Manefeldt, ’n bekende kunstenaar van Worcester, het die voorblad van Gulpflerrie geskilder toe hy verlede jaar in Parys was. “Toe ek dit sien, toe sê ek dís my gulpflerrie. My dogter het die voorblad en die agterblad van sy skildery gemaak,” sê Koen.

Sy sê Gulpflerrie is ook vir die manlike leser geskryf en sy skryf nou die opvolgboek.

“Die opvolg is mans se seksuele fantasieë; ek het al verlede jaar begin en bydraes begin kry,” sê sy.

“Ek is baie opgewonde vir dit wat kom.”

Gulpflerrie kan by Malherbe Uitgewers by heleen@malherbe-uitgewer.co.za of by die winkel www.malherbe-uitgwers.co.za teen R160 per boek bestel word. Die boek word binnekort in Worcester bekend gestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article