Die Brandvlei-hengelklub se kompetisie Saterdag is deur Jacques van Graan, Megan van Graan, Zak Coetzee, Johan Coetzee, Tiaam Coetzee en Jaco Bothma oorheers.Foto: Peppie van Tonder


Die Brandvlei-hengelklub het Saterdag (29 Oktober) ’n kompetisie in die Artois-dam buite Wolseley gehou.

Dit was ’n warm en windlose dag en boonop steeds die visse se broeityd, wat dit moeilik gemaak het om genoeg te vang.

Die Coetzee-gesin het egter in die uitdagende omstandighede uitgestaan en ervare hengelaars ’n ding of twee gewys.

Die junior hengelaar Zak Coetzee was die wenner van die B-sone met die meeste vis, asook die swaarste sak, en is as die algehele wenner aangewys. Sy pa, Johan Coetzee, was tweede in die B-sone en algehele wenner in die senior afdeling. Tiaam Coetzee was derde, en is as die penkophengelaar in die o.13-ouderdomsgroep aangewys.

Pierre Snyman was die beste van die veterane in die B-sone en Jacques van Graan is die wenner van die A-sone asook die beste hengelaar in die meestersafdeling in die A-sone.

Verder in die A-sone het Dirk Lourens die aas onder ander hengelaars se neus gevryf as die senior wenner in hierdie afdeling.

Jaco Bothma was nie ver agter nie en het derde geëindig. Hy was ook die beste hengelaar vir die dag in die veterane-afdeling.

Megan van Graan het die vroueafdeling oorheers en ’n derde plek in die A-sone uitgetrek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article