Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) se liefdadigheidswinkel, Fabulous Finds, is in September 2020 geopen. Die winkel is ’n inkomste genererende inisiatief ten bate van dowes en mense met gehoorverlies by NID. Die doel van die winkel is om netjiese gebruikte klere, boeke en enige ander huishoudelike produkte teen billike pryse aan die gemeenskap beskikbaar te stel en sodoende ’n inkomste vir die NID se dienste aan dowes te genereer.
Die winkel het sommer gou ’n groot gunsteling onder die publiek geword en ’n lojale klantebasis opgebou wat gereeld vir winskopies kom snuffel.
Die winkel bied ook die geleentheid aan mense wat hul kaste uitpak of huise opknap om hul klere, boeke, kombuisware, huishoudelike artikels en ander goedere te skenk en sodoende ’n verskil te maak in die lewe van meervoudig gestremdes en bejaarde dowes by NID.
Die winkel se klantebasis en die gemeenskap se behoefte aan bekostigbare gebruikte goedere het egter ná drie suksesvolle jaar só uitgebrei dat dit nou tyd is vir ’n nuwe én groter baadjie. Die nuwe NID Fabulous Finds-winkel open op Saterdag 3 Februarie om 09:00 by sy nuwe perseel op die NID-kampus, en pronk met meer winskopies as vantevore. Die nuwe winkel beloof jonk en oud ’n heerlike skattejag tussen ’n verskeidenheid gebruikte klere en ander produkte met iets vir elke smaak en sak.
Toegewysde afdelings in die winkel is ingerig vir ’n heerlike snuffel tussen boeke, kuns, naald- en handwerk-produkte, linne, kombuisware, klere, skoene en huishoudelike ditjies en datjies.
Die NID nooi lesers om die nuwe Fabulous Finds-winkel se opening Saterdag (3 Februarie) van 09:00 tot 13:00 te kom vier en te besoek (NID-kampus, De la Batweg 30, Worcester – groen hek-ingang langs die motorwas.) . Die winkel sal voortaan op Dinsdae, Woensdae en Donderdae van 09:00 tot 16:00 en elke laaste Saterdag van die maand van 09:00-13:00 oop wees.
Vir enige navrae, stuur ’n WhatsApp-boodskap na 063 464 8197 of e-pos na fr.nid@nid.org.za. WhatsApp die woord FABULOUS na 063 464 8197 en geniet ’n kans om R100- NID Fabulous Finds- geskenkbewys vir die opening te wen.


