‘n Finalejaar-leerder van die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester is Sondagoggend vroeg (29 Junie) aan ‘n breinverwante siekte in sy tuisdorp oorlede.
Teen gister (Woensdag) het huldeblyke steeds op onder meer sosiale media vir die 18-jarige Austin Diedericks van Pineview in Grabouw ingestroom. Hy was ‘n leerder aan die Pionierskool vir Siggestremdes se afdeling vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes.
Austin se ma, Julien (38), het aan Standard Breederivier Gazette gesê haar seun het Saterdagmiddag van omstreeks 12:00 af van erge hoofpyn begin kla. Volgens haar het hy gereeld hoofpyn gekry, maar Saterdag s’n was erg. Volgens Julien het sy haar seun onmiddellik na ‘n mediese fasiliteit geneem. Daar het hy medikasie ontvang en is dieselfde dag weer terug huis toe.
Sy sê teen 21:30 die aand het Austin weer van erge hoofpyn begin kla. Volgens Julien het ‘n buurman hulle omstreeks 22:00 na die betrokke fasiliteit teruggeneem. Austin was baie slaperig. Volgens sy ma is haar seun kort ná hul aankoms by die fasiliteit aan lewens-ondersteuningsmasjiene gekoppel.
‘n Hartseer Julien het gesê Austin is Sondagoggend 07:00 oorlede kort nadat die masjiene afgeskakel is. “Dit was so moeilik om die masjiene te laat afsit. Ek het so baie gehuil.”
Volgens Julien was Austin 12 jaar oud toe vog op sy brein ontdek is. Sy sig het oor die jare swakker geword. Sy sê tot sy afsterwe het Austin maar 5% sig gehad. Julien sê Austin het elke jaar ‘n breinskandering ondergaan. Volgens haar was die laaste skandering in Desember en alles het goed gelyk.
Volgens Julien was Austin ‘n liefdevolle kind, ‘n mensemens, en hardwerkend.
Michelle Dippenaar, die departementshoof van die afdeling vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes, sê Austin was besonder geliefd en spesiaal. Volgens Dippenaar sal hy altyd onthou word vir sy deernis vir ander en sy fyn aanvoe- ling vir die mees kwesbares. “Hy het homself altyd minder gemaak om ander te verhef [en was] fluks, hardwerkend, altyd bereid om ander te help met ‘n wysheid en insig ver bo sy ouderdom.”
Volgens Dippenaar het Austin se toekomsplanne behels om by Innovation for the Blind se metaal-afdeling aan te sluit, waar hy ongelooflike potensiaal as vinnige, ywerige leerder in die werksvoorbereidingsprogram van die skool gewys het. Austin was ‘n inwoner van een van die skool se koshuise, Huis Kruger. Sy koshuismoeder, Marlene Haasbroek, sê sy “luidrugtige singery” in die oggend by die koshuis sal vir seker gemis word.
Benewens sy ma word Austin oorleef deur ‘n suster, Jolan (20) en broer, Keanu (15). Sy begrafnisdiens is Saterdag, 12 Julie om 10:00 in die saal van die Kathleen Murray Primêre Skool in Grabouw.





