Worcester Neighbourhood Crime Watch (WNCW) het ’n dankie-sê-braai vir al die nooddienswerkers en veiligheidsrolspelers gehou as ’n blyk van waardering vir al hul opofferings die afgelope jaar.
WNCW, wat ’n ledetal van 1 021 het, is ’n gratis diens en bedien die gebiede Bergsig, Fairway Heights, Fairy Glen, Hospitaalheuwel, Hospitaalpark, Leightonpark, Meiringspark, asook die middedorp rondom Oude Meule en die Nasionale Instituut vir Dowes, Paglande, Panorama, Reüniepark, Roostuin, Rouxpark, Somersetpark, Van Riebeeckpark en Worcester-Wes.
Om so ’n groot gebied met soveel lede te bedien, maak die WNCW 365 dae van die jaar, 24 uur per dag gebruik van al die bystand en hulp van verskillende nooddienswerkers en veiligheidsrolspelers.
Hulle het ’n baie aktiewe nood-WhatsApp-groep wat as ’n platform dien waar lede hul misdaad- en noodklagtes deurgee, en waar nooddiens- en veiligheidsrolspelers dan op die klagtes reageer.
Die dankie-sê-braai is by De la Batswembad vir al hierdie nooddienswerkers en veiligheidsrolspelers gehou.
Die volgende rolspelers is almal uitgenooi: Gemeenskapspolisiëringsbeamptes van sektor 4; nooddienswerkers van die ambulansdienste en die brandweer; veiligheidsmaatskappye soos Capital Security, Fidelity ADT en LTS Security; veiligheidsbeamptes, soos polisielede; en wetstoepassingsbeamptes van die munisipaliteit en lede van die provinsiale hoofwegpatrollie.
Daar moes behoorlik bontgestaan word om hierdie meer as 200 nooddienswerkers en veiligheidsrolspelers almal te trakteer. Elkeen het ’n bakkie kos bestaande uit ’n boereworsrol, noedelslaai en ’n wortelkoekkolwyntjie en ’n koeldrank ontvang, asook ’n geskenkpak.
Aangesien al hierdie nooddienswerkers en veiligheidsrolspelers in skofte werk, het die WNCW-lede reeds vroegoggend begin braai en eers om 21:00 – ná 12 ure om die braaivleisvure – klaargemaak om seker te maak dat elke lid van elke skof hul bakkie kos en geskenkpak ontvang.
Die voorsitter van WNCW, Diana Murray, het haar dankbetuiging oorgedra aan almal wat met skenkings gehelp het, soos Kobus de Kock van Hoogstraat Vleismark vir die wors, die raadslid Johan Pieters van wyk 15 vir die skenking van drie kilogram wors en verskeie ander inwoners wat groot hoeveelhede boerewors geskenk het, asook slaai, kolwyntjies, plaatkoek en dies meer. Ook aan Cape Peninsula Beverage en Michelle Vos van die Association for People with Disabilities vir die skenking van koeldrank en etlike inwoners wat geldskenkings gegee het.
Murray het ook haar dank aan al die nooddienswerkers en veiligheidsrolspelers vir al hul persoonlike opofferings die afgelope jaar oorgedra.
Sy het voorts gesê vir haar was die hoogtepunt van die afgelope jaar hoe almal in die gemeenskap saamgestaan en opgestaan het teen misdaad.
Sy het gesê dit was vir haar ’n riem onder die hart hoe inwoners net eenvoudig hul hand opgesteek en vrywillig aangebied het om dinge te doen en byeenkomste te help reël sodra sulke goed gedoen moes word.
Murray nooi enige inwoner wat in die gebiede woon wat hulle bedien om haar te kontak sodat hulle gratis by hulle kan aansluit – 072 971 5302.





