Ashleigh Hanekom en Miriam Geduld het ’n modeparade by die biblioteek gehou, met al die uitrustings van herwinbare materiaal gemaak. Foto:


Twee jong vroue wat by die biblioteek in Worcester werk, het verlede week ’n modeparade gehou.

Dit was nie jou gewone parade nie. Die kledingstukke op die biblioteek se “loopplank” is deurgaans van herwinbare materiaal gemaak.

Ashleigh Hanekom (23) en Miriam Geduld (23) is deel van die YearBeyond-organisasie. Hierdie organisasie skep geleenthede vir werklose jongmense wat nog besluit wat hulle verder wil doen. Die modeparade was wel die twee se idee, maar dit was ook deel van YearBeyond se Lights on After School-inisiatief wat oor die land heen plaasgevind het.

Geduld en Hanekom is albei wat bekend staan as Reading Champions by die Worcester-biblioteek in die middedorp.

“Ons het onmiddellik besluit dat ons nie dieselfde wil doen wat ons elke dag doen nie. Elke dag help ons die kinders om beter te lees. Toe besluit ons om iets meer prettigs te doen en om hulle ook almal betrokke te kry. Dis ook iets wat die biblioteek nog nooit vantevore gedoen het nie,” verduidelik Geduld.

Hulle het die kinders wat gereeld die biblioteek besoek in twee groepe verdeel en elk het leiding van ’n groep geneem. Hanekom het vyf van die uitrustings self gemaak, maar die res van haar groep het saam met haar aan die finale uitrusting gewerk. Geduld, aan die ander kant, het saam met haar groep aan al die uitrustings gewerk.

“Dan het ons twee die finale uitrustings voor ons gaste geparadeer en daar is aan die einde van die dag ’n wenner gekies,” het Hanekom verduidelik.

Hulle het ook baie borgskappe vir hul byeenkoms ontvang en is ewig dankbaar vir die bydraes.

Die twee geniet dit vreeslik om by die biblioteek te werk en om kinders smiddae met leeswerk en huiswerk te help.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article