Die Kings Crusaders is ’n geestelike a capella-groep van Worcester wat reeds agt jaar in die Vallei by verskeie geleenthede optree en die woord van die Here verkondig deur hulle koormusiek.
Eersdaags sal hul tweede album die lig sien en die groep is vreeslik opgewonde hieroor.
In 2011 het ’n groep mans die geleentheid raakgesien om ’n a capella-groep te stig. Met net ’n paar rand in die sak en die wil van dié vyf mans, wat graag hulle gemeenskap met Christelike musiek wou dien, het dit toe ook so gebeur.
Oor die afgelope agt jaar het hierdie groep al wyd gereis met hulle musiek, by verskeie begrafnisse, troues en funksies gespeel en ’n album genaamd, Anointing, die lig laat sien. Nou, in 2019 is hierdie groep sterker as ooit en sal hul nuutste album, Jesus Cares vanaf 12 Oktober beskikbaar wees.
“Ons is baie opgewonde oor hierdie album. A capella-musiek is amper soos koormusiek, net sonder enige begeleiding of instrumente. Ons gebruik net ons stemme en benut harmonieë en soliste om die klank te vorm. Ons sien uit om hierdie album se musiek ook by ons huidige repertoire te voeg en op te tree by kerkdienste, sangfeeste, kompetisies en allerlei spesiale geleenthede,” vertel Dewray Sias, lid van die groep.
Die album het ’n geruime tyd geneem om te voltooi, aangesien die opnamekoste daaraan duur was. Die groep moes self fondse werf en bymekaarskraap om hulle droom te bewaarheid.
“Ons wou graag hierdie album vrystel, omdat daar ’n groot aanvraag was in ons gemeenskap, en ook van buite, vir ’n nuwe album. Ons beplan om mense te vermaak met koorsang, om ons aktiwiteite meer bloot te stel aan die Worcester-omgewing en ook te wys dat koormusiek belangrik is en nog sy plek in die son het. Mense kan uitsien na ’n goeie gehalte opname met baie goeie geestelike musiek en vermaak vir almal,” het Dewray bygevoeg.
Die album is tans in die post-produksiefase en word verpak. Alhoewel die groep nog nie veel wil verklap oor die inhoud van die album nie, sal daar op 12 Oktober ’n spesiale bekendstelling wees. Diegene wat belangstel en navrae het oor die album kan vir Peter Benjamin (voorsitter) kontak by 079 917 2778 of vir Ishiek Gordon (kassier) by 082 860 2031.


