–Volg van bladsy 1.

“Die veelparty-koalisie is vasbeslote om die verspreiding van vals inligting teë te werk en die publiek van die raad se stabiliteit te verseker,” sluit die verklaring af.

In ’n verklaring uitgereik deur die GOOD-party op 20 Junie maak hulle melding van die Witzenberg GOOD-raadslid Katriena Robyn wat op dieselfde dag ’n saak van omkopery teen burgemeester Smit gemaak het. GOOD beweer Smit wou Robyn tydens ’n vergadering wat glo Woensdag 14 Junie plaasgevind het, omkoop.

“Raadslid Robyn het ons vakante raadsetel gevul nadat die voormalige GOOD-raadslid Felicity Klazen, wat as Witzenberg-onderburgemeester gedien het, uit GOOD geskors is ná ’n interne dissiplinêre proses. Ten spyte daarvan dat GOOD die regte ding gedoen het en Klazen verwyder het vir optrede wat onvanpas is vir ’n raadslid en beslis nie ’n onderburgemeester (pas) nie, het die DA eensydig die koalisie gebreek. Hulle het GOOD uit die koalisie verwyder, voorgestel om ’n raadslid van die Witzenberg Aksie-party te kies en verwag dat GOOD net hul leiding sou volg. GOOD het nie geglo dit is in die beste belang van die gemeenskap nie, en dit was ook nie in ooreenstemming met ons koalisie-ooreenkoms nie,” verduidelik GOOD in hul persverklaring.

In die verklaring skryf GOOD die DA se Smit het uit vrees opgetree deur geld aan Robyn aan te bied.

“Nou het die DA-burgemeester, uit vrees vir nog ’n mislukte poging om hul voorkeurkandidaat te kies, die GOOD raadslid genader en haar duisende (rande) aangebied om saam met hulle te stem. Koalisies is ’n natuurlike gevolg van ’n veelparty-demokratiese stelsel, maar hulle werk nie sonder vertroue, kompromie en goeie trou tussen die koalisievennote nie.

“Ongelukkig bewys die DA dat hy ’n onbetroubare koalisievennoot is, selfs wanneer hul optrede ’n negatiewe impak het op die gemeenskap wat hulle beloof het om te dien.”

GOOD het ook op 21 Julie op hul Facebook-blad gedeel oor die verkiesing van Witzenberg se nuwe burgemeester, onderburgemeester en speaker.

“Die GOOD-leierskap verwelkom die verkiesing van GOOD-raadslid Katriena Robyn as uitvoerende burgemeester van Witzenberg-munisipaliteit vandag. ‘Trienie’, soos sy in haar gemeenskap bekendstaan, kom in met ’n magdom ondervinding in plaaslike regering en sal ongetwyfeld uitstekende leierskap in Witzenberg lewer. Sy het voorheen gedien as ’n burgemeesterskomiteelid, ’n onderburgemeester en uitvoerende burgemeester.”

Die DA het ook hul mening oor hierdie debakel uitgespreek en in ’n persverklaring op 22 Junie gesê Hennie Smit is steeds burgemeester van die Witzenberg.

“Hierdie jongste toertjie deur GOOD, wat ’n onwettige raadsvergadering byeengeroep het om ’n nuwe burgemeester te kies, sal nie onbetwis bly nie. Dit is nou vir die mense van Witzenberg duidelik dat hulle na enige vlak sal gaan om toegang tot die raad se koffers te kry om hul eie belange te dien. Hul onlangse optrede spreek ook van desperaatheid omdat hulle aanhou om lede in massas aan die DA te verloor. Die verkose burgemeester bly Hennie Smit, en raadslid Elizabeth Sidego beklee die posisie van speaker van die raad, terwyl die onderburgemeester-pos vakant bly.

“In terme van die ongegronde bewerings teen burgemeester Smit, was geen omkopery ooit betrokke nie. Die betrokke GOOD-raadslid is nie alleen deur die burgemeester genader nie. In plaas daarvan het senior lede van die koukus haar twee keer betrek om navraag te doen oor haar bereidwilligheid om saam met die DA in die raad te werk.

“Die DA, in samewerking met sy koalisievennote, gaan voort om die Witzenberg-munisipaliteit te regeer en bly toegewyd om die mense met integriteit te dien. Hulle toewyding tot die munisipaliteit se welstand het nie gewankel nie, en hulle streef daarna om stabiliteit te handhaaf in die lig van vals inligting wat versprei word,” lui die DA se verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article