Alver Uys

‘n Gewilde allemansvriend, die 48-jarige Edwinn Donenic Apollis, of Ettie, soos hy in sy groot vriendekring bekend was, het kort voordat hy verlede Dinsdag sou klaarmaak vir werk, begin siek word en moes inderhaas hospitaal toe, waar hy later dieselfde dag oorlede is.

Ettie was die jongste seun van Elize en Matthew Apollis, die bekende baskitaarspeler van die destydse Restless Children. Hy het sy laerskoolopleiding aan Riverview Primêr ondergaan en in 1995 aan Worcester Sekondêre Skool matrikuleer.

Hy het kort na skool by Silverton Radiators begin werk, waar hy hom as verkoelingstegnikus bekwaam het. Nadat Tony’s Silverton’s in Augustus 2018 oorgeneem is, het hy voortgegaan om sy uitstekende vakmanskap daar voort te sit en is later as Werker van die Jaar aangewys.

Hy was gewis ‘n allemansvriend en het ‘n wye vriendekring gehad en altyd tyd gemaak om saam met sy vriende te kuier. Verder was hy versot op visvang en ‘n stoere ondersteuner van die Worcester Villagers, die Stormers en natuurlik die Springbokke, en het gewoonlik op toetsdae sy Springboktrui met trots gedra.

Ettie, wat naas sy broer, Morné, en suster, Daleen, ook sy ma en pa agterlaat, word Saterdag (3 Mei) uit die Christ Community Centre begrawe. ‘n Roudiens word Saterdag om 08:00 by sy huis in Crotzstraat 126 gehou en die kerkdiens is om 09:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article