Mphumelelo Lubisi is voor sy huis in De Doorns doodgeskiet. Foto:


’n Voormalige ANC-raadslid van De Doorns is vroeër die maand voor sy huis afgemaai.

Die voorval het op 6 Maart net voor 19:00 gebeur.

“Die polisie het ’n klagte van skote wat afgevuur is, ontvang. Met hul aankoms op die toneel het hulle op die lyk van Mpumelelo Lubisi afgekom, asook ’n gewonde man,” verduidelik ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie.

Die oorledene en die gewonde man het glo op Lubisi se stoep gesit toe op hulle geskiet is.

“Die twee van hulle het gesit en gesels toe twee mans aangestap kom. Toe die mans nader kom, het hulle op die twee losgebrand. Dit lyk asof Lubisi die teiken was.”

Die Bolandstreek- uitvoerende komitee van die ANC het op 7 Maart ’n persverklaring op sy Facebook-blad gedeel waarin hy hulde aan sy kameraad bring.

“Ons is diep hartseer oor die tragiese heengaan van ons geliefde kameraad, Mpumelelo ‘Poy’ Lubisi. Sy ontydige dood is ’n groot verlies vir die ANC en ons gemeenskap in De Doorns. Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie, vriende en kamerade in hierdie moeilike tyd,” lui die inleiding van die verklaring.

Hulle maak ook melding van die rol wat hy in die gemeenskap en in die party gespeel het.

“Kameraad Poy Lubisi was ’n toegewyde dienaar van die mense en ’n toegewyde lid van die ANC. Sy bydraes tot ons beweging en tot die ontwikkeling van wyk 2 was betekenisvol en van onskatbare waarde. As raadslid het hy onvermoeid gewerk om die lewe van die inwoners in die Lubisi- informele nedersetting te verbeter en vir hul regte en beter lewensomstandighede geveg.”

Sy heengaan, meen die party, is ’n herinnering aan wat gemeenskappe in die gesig staar.

“Ons onthou kameraad Poy Lubisi vir sy onwrikbare toewyding aan die stryd vir ’n regverdige en gelyke samelewing, sy passie om die gemarginaliseerdes te bemagtig en sy voorspraak vir sosiale geregtigheid.

“Sy tragiese heengaan is ’n herinnering aan die uitdagings wat ons gemeenskappe in die gesig staar en die behoefte om voort te gaan met die stryd teen misdaad en geweld.”

Die twee verdagtes het van die toneel af weggehardloop en word steeds deur die polisie gesoek.

“Ons doen ’n beroep op wetstoepassingsowerhede om ’n deeglike ondersoek te doen na die omstandighede rakende sy dood en om die oortreders voor die hof te bring. Ons moenie sy heengaan vergeefs laat wees nie, maar dit eerder as aansporing gebruik om verenig teen misdaad en geweld in ons samelewing te staan,” lui ’n paragraaf in die verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article