’n Gewese leerder van HTS Drostdy in Worcester is besig om vir homself naam te maak in Mosselbaai.
Zhandre Hattingh het sy skoolloopbaan by Worcester-Oos begin en is daarna na Drostdy. In 2021 verhuis sy gesin na Mosselbaai, waar hy sy skoolopleiding in gr. 11 by die Hoërskool Punt voortsit en in sy matriekjaar, 2023, as hoofseun gekies is.
Zhandre was vroeg in sy skoolloopbaan reeds ’n uitstekende sportster. Hy het in atletiek en rugby uitgeblink en vroeg Boland-kleure verwerf. Nadat hy sy matriekjaar voltooi het, het hy by Mosselbaai se buiteklub, Die Barbarians, aangesluit
Hy vorder so goed by dié klub dat hy by meer as een wedstryd as Sportman van die Wedstryd aangewys is.
Dié kranige sportman is besig om groot hoogtes te bereik en is in 2023 vir die SWD- hoërskole akademiespan gekies.
Zhandre kom uit ’n sportfamilie. Sy pa, Eugene, het vir die Brandvlei-Korrektiewe Dienste rugby gespeel. Sy oupa en ooms was ook kranige rugbyspelers vir die Primrose-rugbyklub van Worcester.
Baie dinge word gewis nog van hierdie jong man verwag.




