Verskeie moorde en twee pogings tot moord is oor die naweek gepleeg.

In die eerste poging tot moord-voorval wat op Saterdag 5 Augustus om 01:55 plaasgevind het, is ’n vrou deur ’n onbekende skieter geteiken.

“Die voorval het by die R3-blok van die Riverview-woonstelle plaasgevind. ’n Vrou het voor haar deur gestaan en gesien hoe iemand na haar toe aangestap kom. Die verdagte het toe begin skote afvuur en sy het by die woonstel ingehardloop, terwyl sy vier skote hoor afgaan. Toe sy binne kom, is nog twee skote afgevuur. Die vrou is nie deur enige van die skote getref nie,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.

Sondag 6 Augustus om 00:08 is ’n man noodlottig gesteek in die Emakwaleni- informele nedersetting in Zwelethemba.

“Die oorledene en sy vriendin het by ’n ander vriend gaan kuier. Nie lank daarna nie het die oorledene en sy vriendin met mekaar begin stry. Die persoon by wie hulle gekuier het, het toe die oorledene uitgesit en die deur gesluit. Die man het toe later weer teruggekom, die deur oopgeskop en met die ander man begin baklei. Hy het ook ’n mes in sy hand gehad. Die twee het toe buite die informele struktuur beland en die eienaar van die woning het die mes uit die ander man se hand gegryp en hom vyf keer gesteek. Hy het twee steekwonde aan sy rug gehad, twee aan sy bors en een in sy nek. Die verdagte is ná die voorval in hegtenis geneem,” het Jacobs verduidelik.

Later dieselfde oggend, om 05:00, is ’n man wat geen tekens van lewe getoon het nie, in die begraafplaas in Yabostraat, Zwelethemba, gevind.

“’n Sekuriteitswag het om 05:00 na die polisiekantoor in Zwelethemba gegaan waar hy gerapporteer het dat hy iemand in die begraafplaas sien lê het met ’n kopwond. Hy het ook gesê die man toon geen tekens van lewe nie. In hierdie stadium is niemand nog in hegtenis geneem nie, nog geen ooggetuies het ook na vore gekom nie. Ons vra dat enigeen met inligting oor die voorval die polisie kontak.”

In ’n aparte voorval is ’n man aan ’n kopwond in die hospitaal oorlede.

“Die oorledene en die verdagte het glo met mekaar oor iets gestry. Die verdagte het toe die oorledene gestoot en hy het geval en sy kop teen ’n klip gestamp. Die oorledene is hospitaal toe waar sy wond behandel is, maar hy het later aan die wond beswyk.”

Later op 6 Augustus, om 16:55, was daar nog ’n poging tot moord.

“Die voorval het tussen die R- en Q-blokke in Riverview plaasgevind. Die slagoffer en sy vriend het gestap toe die verdagte naderkom en op hulle begin skiet.

“Die verdagte het sewe skote afgevuur, maar die slagoffer is net een keer in sy regterbeen getref. Hy het daarin geslaag om van die toneel af weg te hardloop. Sy vriend is ongedeerd. Die verdagte is later in hegtenis geneem,” het Jacobs verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article