Emsha Bailey laat nie toe dat die amputasie van haar bene haar in haar drome stuit nie. Foto: Tamsyn Jantjies


Soms gebeur dinge in die lewe wat ’n mens geheel en al kan laat struikel en die wil laat verloor om weer op te staan en aan te beweeg.

Maar Emsha Bailey het nie vir een oomblik toegelaat dat negatiwiteit haar oorrompel toe haar een been vyf jaar gelede afgesit moes word nie.

Diabetes is in 2007 by haar gediagnoseer. Haar eerste amputasie het gekom nadat ’n stuk glas in haar groottoon vasgesteek het.

“Ons het gaan netbal speel. Toe ek by die huis kom, sien ek toe ’n stuk glas het deur my tekkie in my toon gesteek. Dit was nie ’n groot stuk glas nie. Ná ’n paar weke het die klein wond net erger en erger geraak. Toe sê die dokter hulle sal moet amputeer. ’n Jaar of wat later is my ander been ook weens ’n seertjie op my voet afgesit.”

Hierdie groot lewensveranderinge het Emsha egter nie in ’n hoekie laat sit en krepeer nie.

“Ek het ’n positiewe ingesteldheid oor alles in die lewe. Ek was oukei met albei amputasies. Ek het geleer as jy dinge vinniger aanvaar, en jy het ’n positiewe uitkyk, dan sal dinge nie te sleg gaan nie,” meen sy.

Ná haar operasies het sy by ’n ondersteuningsgroep aangesluit en gou besef sy kan dieselfde dienste aan haar gemeenskap lewer.

“Ek het besef daar is ander wat hierdie soort ondersteuning nodig het; ander wat nie so positief soos ek is nie. Dis toe ek besluit het om my eie ondersteuningsgroep te begin en bedryf dit van my huis in Avianpark af.”

‘lewe asof elke dag jou laaste is’

Sy het hierdeur ander in dieselfde posisie as sy geleer dat die lewe aangaan.

“Ons is hier om mekaar te bemoedig; om mekaar op te lig en te leer dat daar lewe is ná gestremdheid.”

Die groep, Tiger Lillies Dreamcatchers Sport Support Group, bied baie meer as net weeklikse vergaderings.

“Ons gaan ook op baie uitstappies. Ons doen ’n bietjie sport, wellness days, ons neem gereeld aan fun walks deel en doen wheelchair challenges,” vertel Emsha.

Buiten alles wat sy vir haar ondersteuningsgroep doen, dien sy haar gemeenskap ook op vele ander maniere.

“Ek is ook deel van die walking bus-inisiatief, waar ek elke oggend saam met die kindertjies tot by die skool gaan om seker te maak hulle kom veilig daar uit. Ek besoek ook elke dag pasiënte wat beroertes oorleef het en ek is steeds by netbal betrokke.”

Emsha het lank voordat sy haar bene verloor het, netbal gespeel en afgerig. Vandag rig sy steeds kinders af. Sy meen sy lewe elke dag asof dit haar laaste is.

“Ons raak oud; ons het nie meer lank om te lewe nie. Ek wil nog meer mense in die lewe bereik en hulle help om dinge te ervaar wat hulle nog nooit vantevore ervaar het nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article