Byekorwe
Johann Kotze, die eienaar van JCK Honey.

‘n Byeboer van Wellington het ongeveer R175 000 se skade gely nadat 70 van sy byekorwe op 7 Augustus op ‘n plaas buite Hermon, waar dit in kanolalande gestaan het, gesteel is.

Volgens Johann Kotze (31), ‘n inwoner van Wellington, het hy dié onderneming, genaamd JCK Honey, 11 jaar gelede gestig om ‘n ekstra inkomste te verdien. Volgens hom verpak hy self sy heuning, waarna hy dit op plaas- en feesmarkte verkoop.

Hy het gesê hy het laat die aand op 7 Augustus agtergekom sy byekorwe op die betrokke plaas het verdwyn nadat hy sy rondes gedoen het om die korwe na te gaan.

Die gesteelde korwe was sowat 2 km van die openbare pad in kanolalande – juis om diefstal te voorkom.

Kotze vermoed iemand het hom dalk “dopgehou” of kon die byekorwe steeds op ‘n manier van die pad af sien. Sy kiste is met ‘n unieke nommer – WC0189 – gemerk.

Sommige van Johann Kotze se byekorwe in kanolalande.

Volgens hom is hy steeds optimisties dat hy sy gesteelde korwe sal terugkry omdat die nuus van die diefstal reeds wyd en syd gedeel is.

‘n Jaar gelede is ongeveer 15 van sy korwe gesteel, maar dié het naby aan ‘n openbare pad gestaan. Hy het dié korwe nooit teruggekry nie.

Kotze skat sy verlies, bestaande uit die 70 korwe en die bestuiwing waarvoor die boer op wie se plaas hy die korwe in die kanolalande geplaas het, hom sou betaal, op sowat R175 000.

Hierdie bedrag sluit egter nie die swerms bye in wat ook verlore gegaan het nie, omdat dit moeilik is om ‘n geldwaarde hieraan te koppel.

Volgens Kotze vang hy meestal sy eie bye deur kiste wat hy met ‘n soet vloeistof smeer om die bye te lok, of swerms wat hy by mense se huise of op ander plekke verwyder.

Hy het aan die koerant ‘n bewys gestuur van ‘n klagte wat hy by die Wellington-polisie aangemeld het, maar wat na die Riebeek-Wes-polisiekantoor oorgeplaas is.

Volgens sers. Henry du Rand, ‘n woordvoerder verbonde aan die Malmesbury-polisie, is daar egter nie so ‘n saak in die Riebeek-Wes-polisiekantoor se databank nie.

Johann Kotze merk sy byekorwe met ‘n unieke nommer – WC0189.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article