Die weeklikse uitreik van gesondheidswerkers aan die gemeenskap van Nduli by Ceres het onlangs selfs meer dienste hierheen gebring – dié keer aan senior burgers.

Inwoners is lankal bekend met die Wes-Kaapse Departe­ment van Gesondheid en Welstand se uitreike aan die Vredebes-omgewing deur sr. Elzanne Dampies om ma’s en jonger kinders te help met dienste soos immunisering. Sy werk nou saam met kollegas soos dr. Marisa Crous.

As deel van Crous se studies om as ’n huisarts te spesialiseer, het dr. Crous ’n opname gedoen oor wat die behoefte by senior burgers is wat gesondheidsdienste betref.

“Dikwels tree bejaardes wat op plase in die omgewing gewerk het, in Vredebes af. Hulle is dan onbekend met die omgewing en waar om dienste te kry,” verduidelik Crous.

Sy het opgelet dat daar ’n behoefte is aan dienste soos oogsorg en gehoorsifting, dat van hulle geraak word deur wanvoeding, en dat party senior burgers uitdagings met mobiliteit het. “Ouer mense wil nie altyd kliniek toe gaan nie. As jy met moeite beweeg, is die kliniek ver en is dit ongerieflik om daarheen te gaan,” sê Crous.

Sy en ’n span gesondheids­werkers het toe ingeval by die gereelde uitreik na Nduli, maar hierdie keer ook dienste gelewer soos sifting vir gehoorverlies en oogtoestande, voetsorg, en wanvoeding. Hulle het ’n gemeenskapsaal in ’n oogwink in ’n dienspunt omgeskep.

Senior burgers is met die hulp van Badisa na die saal gebring, en danksy die ondersteuning van Ceres se sakekamer kon pasiënte tee en koffie geniet terwyl hulle tussen die stasies beweeg het.

Bykans 40 senior burgers is die dag gehelp. Ná waarnemings en siftings is drie mense verwys vir ondersteuning met voeding, twee mense van wie katarakte verwyder moet word, is geïdentifiseer, en een is vir verdere evaluering wat gehoor betref, verwys.

Twaalf pasiënte het afsprake by die Nduli-kliniek gekry.

Buiten pasiënte wat reeds met personeel bekend was en elke twee maande hul kroniese medikasie by die mobiele kliniek afgehaal het, sal ’n verdere vyf nou ook hul kroniese medikasie by die mobiele kliniek kry.

“Dit was vir my ’n besonder lekker ervaring,” sê Elizabeth Carolis (79).

“Baie van ons kan nie na die kliniek toe loop nie.”

Sy was baie bly dat die finalejaar- mediese student Anje de Klerk seker gemaak het dat haar voete gesond is, want sy het voorheen probleme met haar bene en voete gehad.

Twee buurvroue het mekaar ook by die saal raakgeloop. Die 73-jarige Sara Botes sê dit was lekker om by die saal gehelp te word. Sy het uitgesien daarna, want sy het asma, en omdat sy maklik kortasem word, loop sy net kort entjies op ’n keer. Haar buurvrou, Eveline de Bruin (63), was ook daar en was bly oor die diens.

Sy kon haar kroniese medikasie hier kry en is na die kliniek verwys sodat ’n wond aan haar been versorg kon word.

Nog ’n diens wat goed ontvang is op die dag, was inligting wat die arbeidsterapeut Dazlin Arendse aan pasiënte gegee het.

Sy het onder meer met mense gepraat oor hoe om na jou rug om te sien en beserings te verhoed, tekens wat daarop kan dui dat jy ’n beroerte het, en hoe jy ondersteuning kan gee aan ander in jou huis wat byvoorbeeld ’n rolstoel gebruik.

“Baie mense ken iemand wat ’n beroerte of ’n rugbesering gehad het, dus was hulle baie bly om met my te gesels,” sê Arendse.

Pasiënte se laaste dienspunt vir die dag was ’n dokters-konsultasie. “Ek het vasgestel wat my gesondheidstatus is,” het Gertrude Mazomba (73) gesê. “Kom asseblief weer!”

Gesondheidswerkers sal inwoners laat weet wanneer daar weer ’n soortgelyke uitreik is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article