: Foto regs: Badsberg se pragtige gronde en proelokaal. Dit is weeksdae en Saterdae oop van 10:00 tot 13:00 vir wynproe.


Badsberg Kelder het vanjaar geskiedenis gemaak deur die eerste kelder te word wat vir die tweede keer in dieselfde jaar die gesogte Jan Smuts- en Pietman Hugo-trofee gewen het in die SA Jongwynskou.

Hul gehoute pinotage is met die Generaal Smuts-trofee as algehele SA Kampioen jongwyn vir 2016 bekroon. Dit is die tweede keer dat Badsberg die gesogte Jan Smuts-trofee wen.

Badsberg het boonop vir die sesde maal die gesogte Pietman Hugo-trofee, vir die hoogste puntetelling met die vyf beste inskrywings, ver­ower. Dit maak Badsberg die kelder met die deurlopend beste produkte op vanjaar se skou.

Die Pietman Hugo-trofee is vernoem na Pietman Hugo, ’n boorling van Worcester wat 33 jaar as direkteur van KWV gedien het, waarvan 11 jaar as voorsitter.

Vir Suid-Afrikaanse wynmakers wat deelneem aan die SA Jongwynskou, is die inwin van die twee trofees gesamentlik inderdaad seker die hoogste prestasie om te kan behaal, en nou het Badsberg dit vir die tweede keer in een jaar reggekry. Die vorige keer was in 2009.

Badsberg se keldermeester, Willie Burger, beklemtoon egter dat dié ’n spanpoging was. Hul span bestaan uit Burger, Henri Swiegers (senior wynmaker), Nicholas Husselman (wynmaker) en Jaco Booysen (assistent-wynmaker).

Die SA Jongwynskou is die oudste wynskou in die land, asook die oudste jongwynskou van sy soort in die wêreld.

Op dié skou kan kelders slegs wyne van die huidige oesjaar inskryf. Dit verskil van ander skoue, waar wyne van enige oesjaar ingeskryf kan word.

Vanjaar is altesaam 1 868 wyne van 102 deelnemers in 91 klasse teen mekaar ingeskryf. Dit maak dit nog duideliker hoe uitsonderlik Badsberg se prestasie is.

Volgens Burger word dié skou nie net gebruik om nuwe kultivars te toets nie, maar gebruik kelders dit om hulself en hul produkte teen ander kelders te meet.

“Ons toets as’t ware die waters. Wanneer ’n nuwe kultivar die land inkom en wyn word daaruit geproduseer, word dit hier geskou. Ons as wynmakers praat met mekaar en gebruik die jongwynskou om nuwe versnitte en produkte bekend te stel en te laat beoordeel.”

Die panele wat die wyne beoordeel, word deur die SA Nasionale Wynskouvereniging saamgestel. Die panele bestaan uit mense uit die wynbedryf, joernaliste, skrywers en kenners.

Kelders van wynstreke reg oor die land skryf in. Klassieke kultivars en versnitte word ingeskryf. Van die klasse wat beoordeel word, sluit onder meer in chenin blanc, pinotage, shiraz, droë wit tafelwyne, port en skaars rooi kultivars.

Na die eerste ronde van beoordeling, word die goue medaljewenners uit elk van die 91 klasse blind uitgeproe vir ’n wenner in daardie klas.

Daardie 91 wenners word dan weer beoordeel tot daar een wenner in elk van die 17 algehele kategorieë oorbly, naamlik die SA kampioene.

Uit dié 17 het Badsberg vanjaar 3 SA kampioene opgelewer en 5 reserwekampioene. Hul drie SA kampioene is die pinotage, ’n chenin blanc en ’n chenin blanc-chardonnay-versnit.

’n Spesialispaneel beoordelaars, wat bestaan uit top- en veteraanwynkenners van reg oor die land, beoordeel dan dié 17 topwyne blind, waarna die Genl. Smuts-trofee toegeken word aan die wenner.

“Enige wynmaker kan maar net droom om dié trofee een keer te wen, maar om dit twee keer te wen is iets besonders vir ons,” sê Burger.

“Alles moet reg loop vir ’n wyn om te wen. Dit kom eintlik nie net van daardie oes nie, maar vandat ’n wingerd aangeplant word.”

Die 12-jaar oue wingerd waaruit die 2016 wen-pinotage van Badsberg kom, is op die plaas Grootvlakte van Flippie van der Merwe.

Om die perfekte wyn te maak, is soos om wetenskap en kuns met mekaar saam te voeg in presies die regte hoeveelheid. Alles kom met goeie boerderymetodes, wetenskaplike benadering tot die wynmaakproses, en natuurlik jare se ondervinding en ’n goeie aanvoeling.

Vanjaar se pinotage is ’n houtverouderde wyn, in plaas van in die gebruiklike vlekvrye staaltenks.

“Ons moet sorg dat alles presies reg loop vandat die seisoen begin net na die winter. Gedurende September bot die wingerd, en daarna moet somerloofpraktyke sorgvuldig toegepas word. Die egaligheid van wingerdblokke is deurslaggewend vir die vervaardiging van topgehalte wyn.

“Alles speel ’n rol: Die bo-stok, onderstok, die weer, die oestyd, die parstyd, die versorging van die grond. ’n Dag of twee kan die verskil maak tussen ’n goeie wyn en ’n uitsonderlike wyn.

“As jy nie sorg dat alles reg is nie, is dit soos om met jou een hand in die vuur te staan en jou ander hand in ’n bak ys. Jy is miskien mooi gemiddeld, maar dit is beslis nie lekker nie,” sê Burger.

Die 2016 wen-pinotage is nog in die vate en behoort teen Januarie 2017 gebottel te wees.

Mense wat belangstel om dit aan te skaf, kan Badsberg se webtuiste dophou vir wanneer dit beskikbaar gaan wees. (http://www.badsberg.co.za/). Hulle is geleë in die Breedekloof-wyndistrik, reg langs die bekende Goudini-vakansieoord buite Worcester. Hulle is weeksdae en Saterdae van 10:00 tot 13:00 oop vir wynproe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article