Hoewel die voorkoms van geslagsgebaseerde geweld in die Breedevallei-, Langeberg- en Witzenberg-gebiede baie hoog is, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nietemin in die vorige kwartaal van vanjaar ’n effense afname bespeur in die aanmelding van klagtes wat met geslagsgebaseerde geweld verband hou.

So sê die NVG se Wes-Kaapse woordvoerder, Eric Ntabazalila, dié week aan Standard en Breederivier Gazette in die lig van die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teenoor Vroue en Kinders, wat Saterdag (25 November) amptelik begin het.

Ntabazalila sê dit is moeilik om te sê in watter van bovermelde gebiede ’n hoë voorkoms van geslagsgebaseerde geweld is omdat die NVG staatmaak op amptelike statistieke, dus klagtes wat by sy staatsdepartemente aangemeld word.

“In howe kry jy ’n gevoel van die hoë voorkoms van huishoudelike geweld as jy kyk hoe besig die onderskeie afdelings gemoeid met gesinsgeweld is.”

Volgens Ntabazalila is die koördinering van statistieke in die Langeberg en Witzenberg nie dieselfde as in die Breedevallei nie.

Hy sê by die Worcester-hospitaal is ’n gesinsgeweld-protokol ingestel waarbinne die Thuthuzela-sentrum ’n deurslaggewende rol vervul om psigososiale ondersteuning te verskaf, hulp te verleen met aansoeke om beskermingsbevele en die aanmeld van strafregtelike klagtes.

Volgens hom kan veiligheidsbeplan­ningsmaatreëls dan onmiddellik ingestel word. Hy gaan verder en sê die geografiese gebiede wat gedek word, sal ook ’n invloed op statistieke hê.

Ntabazalila sê geslagsgebaseerde geweld kan toegeskryf word aan onder meer dwelmmisbruik, patriargie, sosio-ekonomiese omstandighede, die betrokke individue se persoonlikheidseienskappe, kulturele oortuigings en maatskaplike konteks.

Hy sê geslagsgebaseerde geweld kan selfs die morele verval van gemeenskappe weerspieël. “Elke geval sal anders wees, en daarom is dit so belangrik om ondersteuningsdienste te kry.”

Volgens Ntabazalila is die NVG egter redelik suksesvol met betrekking tot die vervolging in sake wat verband hou met geslagsgebaseerde geweld.

“Die feit dat klaers dikwels sake kom terugtrek, het egter ’n negatiewe impak op ons vermoë om oortreders te vervolg.”

Dit, sê Ntabazalila, is een van die NVG se grootste uitdagings.

Hy sê die mees algemene vorm van geweld in die distrikte is gesinsgeweld waarvolgens die partye in die een of ander vorm van gesinsverhouding is, soos omskryf in die wetgewing.

“Fisieke geweld word meestal aangemeld. Dit is egter nie eksklusief nie, want wanneer jy dieper na die situasie kyk, sal jy dikwels vind dat ander vorme van mishandeling soos seksuele, emosionele, ekonomiese en sielkundige mishandeling ook algemeen voorkom.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article