Ek was bevoorreg om in ’n huishouding groot te word waar daar altyd ’n hond of twee was.
Ons was ook glad nie uitsoekerig oor watter ras die hond moes wees nie.
Nou, toe ek nog ’n papnekkie was, het ons vir Lappies gehad. Lappies was ’n wit hond met swart kolle.
Iewers in een van die familie-albums is daar nog ’n foto van Lappies waar hy met my kom kennis maak toe ek skaars twee maande oud was.
Die jare het aanbeweeg en toe is daar Toenkies, Bonnie en Clyde, Bella, Emma, Lassie, Tobie, Lucky, Cocoa, Vicky, Rusty en selfs Oupa.
’n Familielid het altyd gespot en grappenderwys na Oupa verwys as ’n ou tandeborsel. Oupa was ’n steekbaard wat ek destyds by ’n hoërskool-vriendin gekry het. Hy was baie stout.
Soos die jare aanstap, het dié spannetjie ook later deel van ons gesin geword: Heidi, Kelly, Naomi, Timothy, Matthew, Willem, Jacob, Akin, Rubin, Jaimie, Amber, Mary, Charl, Ralston, Pat, Kerneels, Rozie en Fiona.
Daar was selfs Darren. Dié siel het sommer al by geboorte vir drama gesorg toe hy met die bevalling agter in een van ons ou weggooi-rusbanke – waarop sy ma (Heidi) gekraam het – beland het.
Ons het hom daar uitgehaal toe my ma sy gekerm hoor.
Nou, my ma kon nooit op Darren se naam kom nie. Wanneer sy van hom sou praat, sou sy altyd sê: ‘man daai enetjie wat gered was’.
Toe word Darren sommer Gered gedoop.
Heidi was Kelly se ma. Die dag toe Kelly geboorte gee aan Timothy en Naomi het my ma vir Heidi opgetel sodat sy haar kleinkinders kon ontmoet.
Sy moes dit nooit doen nie, want so liefdevol soos Kelly was, het sy woedend uit haar kraambedjie gespring en my ma en Heidi vinnig ’n les geleer deur hulle om die huis te jaag – my ma al gillend met Heidi op die arm.
Glo my, ek het my dierbare moeder nog nooit so vinnig sien hardloop soos daardie dag nie.
Elke liewe hond wat ons gehad het, het maar sy unieke persoonlikheid gehad waarop ons verlief geraak het.
Lucky was die happy go lucky een – letterlik, terwyl ou Kerneels (Neelsie) altyd lus was vir ’n fight – dis nou as jy met hom sukkel.
Heidi was ons Brooke Logan, terwyl Charl weer die stil een was.
Tobie (ons alsatian) was weer onder die indruk al die tewe in die buurt het ’n ogie op hom.
Wanneer een van ons honde afgesterf het (ek weier om te sê gevrek het), was dit of ’n familielid oorlede is. Lucky se geliefde speelding was ’n ou plastiek-speelgoedvuurwapen wat in ons agterplaas gelê het.
Hy het ook daarvan gehou om met die granate – wat onder die granaatboom gelê het – in sy bek rond te hardloop.
Voordat ons ou Lucky kon toegooi, het Moeder geroep: “Wag! Wag!”
Die plastiek-speelgoedvuurwapen en een van die granate wat daar in die sand gelê het, is toe nader getrek, afgevee en langs hom in die gat geplaas.
Natuurlik is ’n traan of twee ook weggevee.
Ons viervoetige vriende verskaf ons tog soveel plesier en dis tog so lekker om vreugdevolle herinneringe met hulle te bou.
Nou, liewe lesers, die feestyd is om die draai en almal is in ’n vrolike bui. Baie maak reg vir groot makietie hou.
Van ons gaan tuis bly terwyl ander die pad gaan vat.
Sommige van ons word oorweldig deur die feesvieringe – soveel so dat ons heeltemal vergeet van ons viervoetige kinders.
’n Mens het al aaklige stories gehoor van diere wat vir weke alleen by die huis gelos word – sommige sonder kos en water – terwyl hul gesinne elders gaan vakansie hou het.
Indien jy dié Desember-vakansie beplan om ’n bietjie weg te gaan en nie in staat is om jou viervoetige vriend saam te neem nie, tref tog net die nodige reëlings.
Kry ’n betroubare versorger om vir jou hond elke dag skoon water en kos te gee, hom of haar so ’n bietjie geselskap te hou, met hulle te speel en vir ’n wandeling te neem vir die nodige oefening.
Alternatiewelik kan jy hom of haar na ’n hondeherberg neem, waar hulle uitstekende sorg sal kry.
Só kan jy die feestyd met ’n geruste hart vier.





