Divan Meyer and Dylan du Plessis sê mekaar die stryd aan vroeër in Mei op die Mega Oval Raceway, wat op Kleinplasie geleë is. Foto: Facebook/Mega Oval Raceway

Die geskiedkundige Kleinplasie in Worcester sal binnekort op ‘n veiling in die opemark te koop aangebied word.

Hierdie besluit is Dinsdag (27 Mei) op ‘n raadsvergadering van die Breedevallei-munisipaliteit geneem, het dr. Julian Kritzinger, die burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ontwikkeling, toerisme, kuns en kultuur, in ‘n verklaring gesê.

Kleinplasie bestaan uit twee dele en die besluit geld slegs die onderste, ou landbouskou-deel waar die blommesaal, die nywerheidsaal, die Pietman Hugo-saal, die Mega Oval Track en –pawiljoen, die ou historiese Roodewal-opstal, buitegeboue, ‘n restaurant, chalets en trekkerstoor staan.

Dit beslaan twee erwe.

Die boonste deel, waar die Worcester-museum geleë is, word nie deur die besluit geraak nie. Dit behoort aan die Wes-Kaapse departement van openbare werke en sal steeds as provinsiale museum bedryf word.

Die verkoop van hierdie erwe sal op sekere voorwaardes geskied, het die raad bepaal. Die eiendom sal uitsluitlik verkoop word vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, sport en ontspanning of vir opvoeding.

Die koper moet ook toesien dat die historiese geboue onderhou en gerestoureer word, volgens die vereistes van Erfenis Wes-Kaap, die BVM Stadsbeplanningafdeling en die Worcester- Erfenis- en bewaringskomitee. Dit verwys spesifiek na die ou Roodewal-hoofopstal, die ou historiese jongmanshuis, die historiese wynkelder en die twee kleiner arbeidershuisies, die werf rondom die ou hoofopstal en die Italiaanse Krygsgevangene-obelisk-monument, wat die Tweede Wêreldoorlog gedenk.

Die verkoper moet ‘n reg-van-toegang-serwituut op sy eie koste registreer sodat daar toegang is tot die museum se hoof- en sy-ingange. Alle kostes wat met die verkoop verband hou, soos hersonering, oordragkostes en die aanlê van munisipale dienste, moet deur die koper betaal word. Die koper is ook verantwoordelik vir die betaling van munisipale dienste ná die oordrag van die erwe.

Die twee erwe op die ou landbouskou- deel is sowat 206 177 en 3 599 m² groot.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article