Jowen Berdien het saam met sy gesin in ’n brand op 5 Januarie omgekom. W. A. Rossouw Primêre Skool het hierdie foto op hul Facebook-blad gedeel. Foto:


MONTAGU – Die feestyd het tragies geëindig toe ’n gesin van vier dood is nadat ’n brand Vrydag 5 Januarie in hul woning ontstaan het.

Die brand het omstreeks 22:00 in hul informele struktuur uitgebreek.

Die polisie het om 22:15 op die brand gereageer.

“Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle opgemerk die wendyhuis is amper heeltemal afgebrand. Een van die bure het hulle ingelig vier mense was in die wendyhuis wat aan die brand was. Nadat die brandweermanne die vuur geblus het, is die lyke van die vier mense gevind,” sê AO Suria Meyer, Montagu-polisie se woordvoerder.

Die oorledenes – Jolen Jansen (29) en Annamrie Berdien (31) en hul twee kinders – het in die informele struktuur in Jolen se pa se agterplaas in die woonbuurt Ashbury gewoon. Jolen se pa, André Jansen, moes aanskou hoe die vlamme die informele struktuur verswelg.

“Ek het by ’n buurman gekuier. Ons het buite gesit en gesels toe een van die ander mense sê ons moet om kyk, daar’s ’n brand. Toe ek omkyk, toe sien ek die vlamme trek hoër as die dubbelverdiepinghuis in my straat. Ons het toe omgehardloop, en toe ons om die draai kom, het ek besef dit brand in my agterplaas,” vertel André.

Hy het hom na sy huis gehaas en probeer om die struktuur se deur oop te skop.

“Ek het drie keer teen die deur vasgehardloop, maar dit wou nie oopgaan nie. Die ander buurman wat ook op die perseel woon, het toe die deur met ’n groot steen oopgegooi. Hy het my vertel toe die deur oopgegaan het, het hy die jongste enetjie daar sien staan en net daarna toe stort die dak ineen, bo op die babatjie.”

Hy vertel verder hy was buite homself en het pad-af gehardloop.

“Ek was soos ’n mal mens. Ek het in die pad af gehardloop en iemand het my gevra waar my seun is, en dis toe ek besef het dat hy ook in die wendy is. Ek het omgedraai en wou by die brandende struktuur inhardloop om die mense te red, maar ek kon nie. Die vlamme en rook het my gekeer. Al wat ek toe kon doen, was om te staan en aanskou hoe my seun en sy vrou en die kinders daar doodbrand.

“Dis nie lekker om hieroor te praat nie.”

Hy het ook aan Gazette vertel dat die ander bewoner op die perseel gesê het hy het net voor die brand iemand gehoor hardloop.

“Hy het gesê hy het niks daarvan gedink nie en net gedink dis maar hulle wat soos normaalweg in die huis beweeg. Maar toe hoor hy hoe skree my seun ‘wat de hel gaan nou aan?’ en dis toe hy opstaan om te gaan kyk wat aangaan. Hy het ook gesê dat die skuifslot van die bungalow se deur van buite af toegemaak was. Ek het dit alles met die polisie gedeel.

“Die seerste van als is die kinders wat dood is,” sê hy in ’n bewerige stem.

“Soms is ek oukei, maar wanneer ek alleen sit, dan kom alles van daai aand weer by my op; hoe ek moes staan en kyk hoe hulle doodbrand. Ek sal nooit weer so ’n seun kry nie.”

Jowen Berdien, die sesjarige oorledene, was ’n leerder by W. A. Rossouw Primêre Skool.

“Ons as skool wil ons innige meegevoel uitspreek met die familie van wyle Jowen Berdien wat Saterdagaand saam met sy huisgesin tragies in ’n brand omgekom het. Rus sag, Jowen en huisgesin. Aan die bedroefde breë familie en vriende – mag God jul toevou in sy genade. Psalm 147:3: Hy genees die wat gebroke is van hart; en Hy verbind hulle wonde,” sê die skool op sy Facebook-blad, by ’n foto van Jowen.

. ’n Begrafnis vir al vier oorledenes vind Sondag om 10:00 plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article