Die begrafnisdiens van die vermoorde graad 12-leerder, wie se lyk verlede Maandag (18 September) op ’n plaas buite Worcester aangetref is, is eerskomende Sondag.
AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n jong man Dinsdag in verband met die moord op die 20-jarige Mervin van Wyk van die plaas Wilgevlei naby Wolseley in hegtenis geneem is.
Inwoners van Wilgevlei en omliggende plase sou gisteraand (Woensdag) ’n roudiens vir Van Wyk in die saal van die Primêre Skool Bothashalt gehou het.
Van Wyk was ’n leerder aan Esselenpark Senior Sekondêr.
Die plaasgemeenskap is verlede Maandag geruk toe Van Wyk se lyk in ’n paadjie langs die wingerde op die plaas Die Vlakte – nie ver van sy ouerhuis af nie – aangetref is.
Hy het verskeie kopwonde gehad en sy aanvaller(s) het ook probeer om sy geslagsdele af te sny. Van Wyk se ouer suster Barenice en haar vriend Arnold Maxgialm het Mervin se lyk verlede week Woensdag gaan uitken.
Mervin se ma, Let, is sowat vier maande gelede aan longkanker oorlede.
Volgens Mervin se ouer broer, Marius van Wyk, het hy en Mervin saam in hul ouerhuis gewoon.
Hy sê Vrydagaand 15 September, terwyl dit beurtkrag was, het Mervin die huis – met sy rugsak op die rug – verlaat. Volgens Marius het Mervin nie gesê waarheen hy op pad was nie.
Barenice sê aan Standard die oggend toe Mervin se lyk gevind is, was sy by haar werk op die plaas.
Volgens haar het haar werkgewer tot by haar gekom en vir haar gesê daar is gerugte dat die lyk wat op die plaas, Die Vlakte, gevind is, dié van Mervin is.
Barenice sê sy het haar onmiddellik na die toneel gehaas, maar toe sy daar kom, was die liggaam reeds verwyder. Volgens haar het haar werkgewer haar en haar kollegas die res van die dag afgegee.
“Ek voel baie hartseer en teleurgesteld oor wat gebeur het, want hy was my baby-broer. My hart is gebreek. Ek was soos ’n ma vir hom, veral ná ons ma se dood.”
Marius sê op sy beurt hy het die Maandag, toe Mervin se lyk ontdek is, vasgestel dat hy (Mervin) die Vrydagaand toe hy by die huis weg is, op pad was na ’n vriendin op die plaas Witelsboom. Hy het ook vasgestel Mervin was die Sondagaand seweuur van sy vriendin se huis weer op pad terug huis toe. Volgens hom sou Mervin die dag toe sy lyk aangetref is, sy laaste vak geskryf het.
Mervin word ook deur sy oudste broer Freek van Wyk, oorleef.


