“Ek weet jy doen net jou werk. Ons is stomgeslaan. Daar is geen waarheid in die bewerings nie. Die Here sal werk met dié wat boosheid saai.”

Só het Wilma Groenewald, suster van die vermoorde Herman Nieuwoudt van Ceres, in reaksie op ’n Facebook-inskrywing gesê oor gerugte van “seksuele gunsies” wat die ronde oor die leraar doen. Hy is vroeër vandeesmaand gekaap en vermoor.

Sy lyk is op Saterdag 6 Mei op die Wolseley-Ceres-pad deur ’n verbyganger gevind. Volgens gerugte, soos berig deur Rapport, is Nieuwoudt, wat destyds by die Verenigende Gereformeerde Kerk betrokke was, onder ’n donker wolk by die kerk weg nadat verskeie klagtes teen hom ingedien is. Die berig verduidelik, volgens ’n bron waarmee Rapport gepraat het, dat klagtes teen Nieuwoudt ingedien is omdat hy glo seksuele gunsies van seuns gevra het. Daar word ook beweer dat hy een seun R100 wou gee in ruil hiervoor. Nieu­woudt is egter nie weens hierdie klagtes van die kerk af weg nie. Ten tyde van sy sterfte was hy by die Patmos-plaas­werkersbediening in Ceres betrokke.

Nadat die nuus gebreek is, het Standard na Groenewald uitgereik. In reaksie op die Facebook-boodskap het sy gevra dat sy of haar familie nie weer oor die bewerings gekontak word nie.

Volgens gerugte het die oorledene glo ook sy moordenaars langs die pad op pad na Nduli in Ceres opgelaai.

“Alles word nog ondersoek, maar dit lyk wel of die oorledene sy moordenaars langs die pad opgelaai het,” het AO Va­thiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, aan Standard gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article