Dit blyk byna vier weke nadat die berig in Standard verskyn het oor die 12-jarige Geraldo wat nie ’n geboortesertifikaat of ’n van het nie, is hy nou nader daaraan om sy eie van te kry.
Standard het op 17 Maart (“Wanneer gaan ek skool toe?”) berig dat Geraldo se geboorte nooit opgegee is nie en hy as gevolg daarvan geen geboortesertifikaat het nie. Dit het daartoe gelei dat Geraldo nooit skool toe kon gaan nie. Louis Mpinda, sy oupa, sê die proses moet so gou moontlik afgehandel word sodat sy kleinseun ’n normale lewe kan lei.
Standard het ’n navraag aan Kindersorg gestuur oor hoe ver die proses is om vir die kind ’n geboortesertifikaat te kry. Volgens Nande Trom, ’n maatskaplike werker by Kindersorg wat verantwoordelik is vir Geraldo se saak, het sy binnelandse sake hieroor genader.
“Die verteenwoordiger van die departement binnelandse sake met wie ek gepraat het, het al die nodige besonderhede van die biologiese ma van die betrokke kind geneem sodat sy op hul stelsel kan kyk of die moeder se geboorte ooit geregistreer is aangesien dit sal help om ’n geboortesertifikaat vir die betrokke kind te kry. Ek wag nog op terugvoer van binnelandse sake oor hoe ver hul ondersoek is.
“Geraldo was veronderstel om op Dinsdag 12 April ’n skolastiese assessering by die Wes-Kaapse onderwysdepartement te ondergaan sodat hy by ’n skool ingeskryf kan word. Dit is die terugvoer wat ek nou kan gee,” het Trom afgesluit.





