Vir langer as 20 jaar was André du Preez van Silverfox Snake Rescues die man wat Worcesteriete gebel het as ‘n slang onverwags sy opwagting maak.

Dit was met groot skok en hartseer dat die gemeenskap verlede week van sy onverwagse dood kennis geneem het.

Du Preez is verlede Donderdagoggend (19 Februarie) in die hospitaal oorlede nadat hy ‘n ruk lank gehospitaliseer was. Hy was ná ‘n hartstilstand die laaste paar dae aan ‘n ventilator in die waakeenheid gekoppel.

“Hy was ‘n toegewyde man en ‘n ongelooflike pa vir sy twee kinders. André was die anker van ons huis, bekend vir sy groot hart en die onbaatsugtige liefde wat hy aan mense en die diere by Silverfox Rescues geskenk het. Sy leiding, warmte en sagtheid laat ‘n groot leemte. Ons gaan hom ontsaglik baie mis, maar sy liefde sal altyd in ons harte voortleef,” het sy vrou, Tania, en twee kinders, Talisa en Jandré du Preez, gesê.

Du Preez het baie gedoen om slange te rehabiliteer en weer in die natuur vry te laat. Foto’s: verskaf

Hulle het tot op die laaste toe nog gehoop dat sy toestand sou verbeter. Die gesin moes op dieselfde dag dat Du Preez in die hospitaal opgeneem is ook afskeid neem van sy pa, ook André du Preez, ná ‘n kort kankerstryd.

Daar is aanvanklik berig dat Du Preez weens ‘n spinnekopbyt in die hospitaal opgeneem is, maar ‘n virus het vermoedelik sy gesondheid onder druk geplaas en hy het daarna ‘n hartstilstand gehad. Hy het moontlik die virus opgedoen nadat hy oop wonde as gevolg van gordelroos ontwikkel het.

Du Preez het nie net slange gevang nie, en ook sy liefde vir dié reptiele gebruik om mense bewus te maak van hul rol in die natuur en hoe hulle veilig elders vrygelaat kan word, eer- der as om doodgemaak te word. Hy het nie net met slange gehelp nie en is ook vir hulp met talle ander diere uitgeroep.

Die groot hoeveelheid huldeblyke wat ingestroom het, is ‘n getuienis van die impak wat hy op sy gemeenskap gehad het.

Hy het veral op jong inwoners ‘n groot indruk gemaak. Verskeie skole het hul medelye betoon. “Dankie vir die kennis, passie en respek vir die natuur wat jy met ons gedeel het,” het Rabie Primêre Skool op Facebook geskryf.

“Ons is baie dankbaar vir die manier waarop hy ons leerders toegerus het met die vele sessies wat hy by ons skool aangebied het. Oom André het goeie werk by ons skool en in die gemeenskap gedoen,” het die Laerskool Worcester-Oos geskryf.

“Hy was nie net ons dorp se slangvanger nie, maar ook ‘n passievolle opvoeder wat altyd bereid was om sy kennis met ons leerders te deel. Met geduld, wysheid en ‘n unieke sin vir humor het hy ons kinders meer geleer oor slange – om hulle te verstaan en te respekteer,” het Bel-El Primêr Olifantsberg geskryf.

“Deur Oom se wysheid en passie het ons soveel geleer, nie net oor slange nie, maar om respek te hê vir die natuur en die rol wat elke skepsel speel. Die kennis wat Oom met ons gedeel het, sal ons nooit vergeet nie en ons sal terugdink aan elke slangbewusmakingsessie en dit koester. Wat veral uitgestaan het, was die manier hoe Oom met ons leerders gewerk het. Oom Silverfox het ‘n besonderse manier gehad om ons leerders te hanteer – hy het sy hand op hul hande geplaas en dit oor die reptiele gelei. Sonder vrees het hy elke leerder die geleentheid gegee om aan die reptiele te vat!” het die Pionierskool vir Siggestremdes geskryf.

Sy dogter sê haar pa het geweet dat hy aanhangers het, maar dink nie hy het besef hoe geliefd hy was nie. “Hy was maar net twee jaar lank afgetree en wou nog soveel dinge doen. Hy wou nog altyd ‘n kamp begin het waar hy kinders meer oor oorlewing wou leer.”

Du Preez het voor sy afsterwe reeds planne in plek gehad vir wat van die slange wat hy tuis aangehou het, onder andere sy geliefde Gaboenadder, Athena, sal word sou hy tot sterwe kom.

‘n Lewensviering word komende Saterdag (28 Februarie) vir Du Preez in Worcester gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article