Isaiah Davids, die skrumskakel van Robertson Town, op pad doellyn toe in sy span se Sanlam-Boland-Top-12-kragmeting teen Saldanhabaai. Davids was een van die tuisspan se uitblinkers en is ook as die Sanlam-Boland- speler met die grootste selfvertroue aangewys. Robertson het die wedstryd, wat op die Van Zylstraat-sportterrein gespeel is, met 22-19 gewen. Foto: Caleb Chayim du Toit / Digital Studios


Ondanks ’n paar verbroude skoppe pale toe en twee geelkaarte was die geluks­godin Saterdag (2 November) steeds aan Robertson Town se kant in sy Sanlam-Boland-Top-12-kragmeting teen Saldanhabaai.

Robertson se skakelpaar – Isaiah Davids (skrumskakel) en Colin Willemse (losskakel) – sowel as ’n speler van Saldanha, is in verskillende stadiums van die wedstryd met geelkaarte gestraf.

Die uitslag van dié klipharde stryd, wat op die Van Zylstraat- sportterrein gewoed het, was tot aan die einde in die weegskaal. Robertson, wat goed begin en die botoon in veral die skrums gevoer het, het die wedstryd uiteindelik ná ’n groot gesukkel met 22-19 gewen nadat hy rustyd 11-0 voor was.

Selfs ná rustyd – toe hy sy voorsprong verder tot 16-0 vergroot het – was die tuisspan nog goed in beheer.

Robertson se punte tot in daardie stadium het van twee strafdoele deur Willemse en ’n drie elk deur Jovelian de Koker (senter) en Isaiah Davids (skrumskakel) gekom.

Maar toe het die gety in die besoekers se guns gedraai. Saldanha het homself reggeruk en met mening teruggeveg.

Saldanha het drie onbeantwoorde drieë in die tweede helfte aangeteken en toe die voortou geneem. Die wedstryd het op ’n spannende einde afgestuur toe Willemse in die 67ste minuut die telling met ’n strafdoel gelyk gemaak het (19-19). Uiteindelik was dit Saldanha wat drie minute voor die einde ’n oortreding reg voor sy doelpale begaan het. Dit het aan Robertson ’n geleentheid gebied om die wenpunte aan te teken toe Willemse met ’n strafdoel geslaag het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article