Die breë gemeenskap van Worcester is in rou gedompel na die skoknuus van die skielik dood van ’n geliefde, welbekende inwoner van dié dorp.
Arie Fourie is vannag (Donderdag 7 Maart) in ’n motorongeluk in dié dorp dood.
Volgens ’n ingeligte bron, het die ongeluk plaasgevind net na 01:00 in De la Batweg.
“Arie was ’n passasier in die bakkie. Daar was geen ander voertuie betrokke nie,” het die bron gesê.
Volgens Fourie se Facebook-blad het hy Woensdagaand na Rawsonville gegaan om ’n vriend se verjaarsdag te vier.
Fourie was veral bekend as bemarkingsbestuurder by die Mountain Mill-inkopiesentrum op Worcester. Hy was ook baie betrokke by gemeenskapsake, veral die Charl Munnik Foundation.
Talle medelye het van vroegoggend begin instroom na nuus van sy sterfte gebreek het.
“Sjoe man, groot skok vanoggend vir baie van ons. Ons weet die Here se tyd nie ons sin. Ai man,” lui ’n gedeelte van BVM burgemeester, Antoinette Steyn, se Facebook-inskrywing.
Sy lewensmaat, Johan du Preez het die volgende geskryf: “Hoe sê ons koebaai, wie het geweet dit sal die laaste aand wees wat ek in jou blou oë kyk en jou lag hoor. Rus sag my Angel, my lams jopie, my lewe is niks sonder jou [sic],” lui die boodskap.
Volgens Ao. Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester polisie, was Fourie reeds dood verklaar toe lede van die polisie op die toneel kom.
“Met die polisie se aankoms op die toneel was die ambulansdienste reeds daar. Paramedici het toe die polisie in kennis gestel dat Arie Fourie reeds aan sy wonde en beserings beswyk het. Die bestuurder van die voertuig is na ’n hospitaal geneem vir behandeling,” het sy gesê.
Jacobs het verder gesê dat die voertuig waarin hulle gery het, ’n Ford Ranger bakkie, teen ’n boom gebots het. Dit is op hierdie stadium nog onbekend watter beserings die bestuurder van die bakkie opgedoen het.






