Andre du Preez, bekende slangvanger in Worcester, is vanoggend oorlede.

Die Worcester-gemeenskap steier ná nuus oor die afsterwe van die geliefde en welbekende slangvanger, André du Preez van Silverfox Snake Rescues, vroeër vandag bekend geword het.

Du Preez is Donderdagoggend (19 Febraurie) oorlede nadat hy die afgelope paar dae aan ‘n ventilator in die waakeenheid gekoppel was ná ‘n hartstilstand.

Sy familie het die tragiese nuus in ‘n kort inskrywing op sy amptelike Facebook-blad bevestig.

“Dit is met groot hartseer dat ons moet aankondig van die heengaan van ons pa, en man. Hy was omring deur sy familie en vriende tot die einde,” het sy gesin aangekondig.

Daar was binne die eerste drie uur ná dié inskrywing gemaak is reeds oor die 800 kommentare van Facebook-volgers wat hul medelye met sy afsterwe wou betuig.

Daar is aanvanklik berig dat du Preez weens ‘n spinnekopbyt gehospitaliseer is, maar sy familie het vroeër aan Standard gesê dat ‘n virus vermoedelik sy gesondheid onder druk geplaas het en hy daarna ‘n hartstilstand gehad het. Hy het moontlik die virus opgedoen nadat hy oop wonde ontwikkel het as gevolg van gordelroos.

Andre du Preez
André du Preez tydens een van die gewilde bewusmakingsessies oor slange wat hy dikwels by skole aangebied het. Foto: Silverfox Snake Rescues

Du Preez het op Maandag 9 Februarie ‘n plasing op sy Facebook-blad gemaak waarin hy sê dat hy nie beskikbaar is om slange te vang nie omdat hy in die hospitaal opgeneem is ná ‘n spinnekopbyt. Hy was toe reeds vier dae lank in die hospitaal.

Nadat hy aanvanklik ontslaan is, is hy 13 Februarie weer ongevalle toe en in die waaksaal opgeneem.

Dit is toé dat dokters besef daar is ‘n virus wat sy gesondheid knou.

Breedevallei se uitvoerende burgemeester, Antoinette Steyn, het op haar amptelike Facebook-blad die volgende geskryf.

“Groot hartseer vir BreedeVallei

Andre…

Altyd geduldig en altyd daar vir almal…jy het n hart van goud gehad Andre…

Dankie vir jou werk op aarde en dat jy soveel kindertjies se hart gesteel het met jou leer skool aan hulle oor diere….,(sic)” lui ‘n gedeelte van die boodskap.

‘n Goeie vriend van du Preez, Gerrie Steyn, ‘n slangvanger van Montagu, het geskryf:

“Ek het vandag my beste vriend verloor… André, ouboet na wie toe gaan ek nou ry net om by die kombuistafel te sit en kuier om by ʼn vriend te wees?

“Tossie, Jandre en Talisa ek huil saam met julle.  André is ’n groot, geliefde mens gewees veral in Worcester area. Hy het fenomenale werk gedoen om mense daagliks te help om slange te verwyder en ook sy slang veiligheids praatjies was hy voor bekend met Silverfox Snake Rescues. (sic)”

Eduard Niemand van Boland Snake Removals in die Paarl skryf: “Ons groet ‘n legend van ‘n slangvanger van Worcester. Hy is baie se hero, ‘n pa vir sy kinders , ‘n man vir sy goeie vrou, met baie geliefdes en volgelinge. André het 1000de mense geleer met snake awareness-praatjies in die Breede Valley. Andre du Preez, Oom Slang, rus sag ou maat. (sic)”

Tientalle soortgelyke boodskappe doen die ronde op sosiale media sedert die nuus vanoggend bekend maak is en dui op die blywende impak wat du Preez op die gemeenskap en sy mense gehad het.

Standard het na sy familie uitgereik, maar kon hulle teen tyd van publikasie nog nie bereik nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article