‘n Gewilde onderwyser en allemansvriend, die 65-jarige Bernadette Joy Bailey, ‘n nooi Neethling, is op 2 Julie slegs ‘n paar weke nadat sy ná meer as 10 jaar in China terug in die land was, ná ‘n kort siekte oorlede.

Bernadette was die oudste van vier dogters van wyle Benna en Josephine Neethling, albei onderwysers.

Sy het haar laerskoolloopbaan aan die NGK Oefenskool voltooi en aan Esselenpark Sekondêr matrikuleer. Sy het haar tersiëre opleiding aan die Bellville-oplei- dingskollege voltooi en later ook ‘n spesialisjaar aan Boland Kollege.

Sy het haar onderwysloopbaan by Victoriapark Primêr begin, daarna by Worcester Junior klasgegee, en later ook by Worcester Senior Sekondêre Skool, die private skool Lanner House asook by YWAM en nog later ook by Abet, waar sy die nasionale toekenning vir uitnemendheid vir onderrig aan volwassenes ontvang het.

Hierna het sy in China onderrig gegee totdat sy einde Maart 2025 permanent na Suid-Afrika teruggekeer het. Sy het voor haar terugkeer eers vir bykans twee maande by haar seun Chesslyn Scott en sy familie in Viëtnam gekuier.

Bernadette was ‘n uitmuntende en passievolle Engels-onderwyser wat altyd die ekstra myl vir haar leerders geloop het. Hiervan getuig die honderde sosialemedia-inskrywings wat ná haar skielike dood geplaas is. Sy was baie geliefd onder haar oud-leerders en haar deugde is vir dae aaneen besin toe haar dood rugbaar geword het.

Sy was volgens haar kinders ‘n uitste- kende kok en gasvrou en baie lief vir haar kinders, kleinkinders en haar susters en dié se gesinne. Sy was ook ten nouste betrokke by haar kinders se buitemuurse aktiwiteite en baie lief vir ballet, drama, die St John’s Ambulansbrigade en koorsang en was ook ‘n erkende skeidsregter en beoordelaar nadat veral haar seun Chesslyn so uitsonderlik in karate presteer het.

Sy was ook baie gewild as programdirekteur by uithang-geleenthede en was ook ‘n gewilde omroeper by die gemeenskapsradiostasie Vallei FM voordat sy oorsee gaan onderrig gee het.

Bernadette laat naas haar drie kinders, Chesslyn, Beauron en Donne, ook haar twee skoondogters, Nikita en Mignon, ses kleinkinders (Phoebe, Catelina, Kaino, Bayne, Connor en Rameses) en haar drie susters, Hilary, Natalie, Daphne en hul gesinne agter.

• Bernadette word Saterdag (19 Julie) om 10:00 uit die VGK-gemeente Adderleystraat ter ruste gelê. Die troosdiens vind om 09:00 by haar huis by Greystraat 66 plaas. – Alver Uys

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article