Worcester Interkerklike Gebedsgroep herleef.
Die destydse interkerklike gebedsgroep, wat gedurende die jare sewentig tot negentig so prominent in die dorp was, het herrys.
“Dit is die besef dat net die Here ons dorp in ons omstandighede kan help, wat die besluit ontketen het om hierdie gebedsaksie te laat herleef,” het eerwaarde David Jantjies gesê.
Voor die koms van dié eeu het Worcester ’n magtige en doeltreffende gebedsgroep gehad. Hierdie interkerklike groep het weekliks vergader met die uitsluitlike doel om vir die dorp en sy inwoners te bid.
Jantjies vervolg: “Die groep het om die een of ander rede opgehou bestaan en ’n mens moet wonder of dit dalk een van die redes is wat tot die maatskaplike en geestelike verval van ons samelewing gelei het. Ons bid in ons silo’s en nie saam as gelowiges nie.”
Die gebedsgroep van weleer het uit lede van verskillende denominasies bestaan. Die samebindende faktor was hul geloof dat die Here na gebed luister. Die feit dat kerkverband geen rol gespeel het nie, het die gebedsgroep sterk in die dorp laat staan.
Gebedsessies is gewoonlik een keer per week gehou. Dan was daar ’n onvergeetlike kwartaallikse deurnagsessie waar letterlik deur tientalle mense in skofte gebid is.
Volgens Jantjies, skrywer van die boek The Christian’s Prayer Book – Focused Prayers 101, sal die gebedsgroep vir allerlei sake bid – in die geloof dat die Here die lot van die dorp deur ’n magtige herlewing sal verander.
“Om die bal weer aan die rol te sit,” vervolg Jantjies, “sal die groep vir eers Donderdagaande by my woning in Lynerstraat 116, Esselenpark, vir gebede byeenkom. Die hoop is dat een van ons kerke in die dorp, of ’n weldoener, spoedig hul perseel vir ons beskikbaar sal stel.”. Bel Adeline Jantjies by 081 391 3761 vir navrae.




